Besigheidversekerings-behoeftes




Die doel van besigheidversekeringsoplossings is om te voldoen aan ’n behoefte of doelwit van ’n kliënt na aanleiding van ’n bespreking van ’n besigheidsbehoefteanalise.

Die struktuur is glad nie ingewikkeldnie en volg slegs die behoefte wat geidentifiseer is. As die adviseur die nodige basiese vrae vra om versekerbare belang te bepaal, sal die struktuur natuurlik volg. By die vasstelling van ’n behoefte en dus ’n versekerbare belang, moet die adviseur vasstel wie die behoefte het om ’n ander te verseker en hoekom daar so ’n behoefte is. Die “wie” en “hoekom” vrae sal maklik die versekerbare belang tussen die partye tot ’n versekeringskontrak bepaal.

VRA DIE VRAAG “WIE?”
Die “wie”, met die doel om versekerbare belang in ’n versekeringskontrak te bepaal, is die persoon wat ’n verlies sal ly na die dood of ongeskiktheid van die versekerde lewe. Hy sou dus ’n spesiale finansiële belang in die versekerde lewe hê. Die “wie” persoon is gewoonlik die aansoeker van die poliskontrak, wat later die poliseienaar word en wat geregtig sal wees op die opbrengs van die polis, tensy hy ’n begunstigde nomineer om die opbrengs te ontvang.

Bogenoemde vraagtegniek kan geïllustreer word met ’n voorbeeld:
Maatskappy A het drie aandeelhouers. Twee van die drie aandeelhouers is nie aktief betrokke by die besigheid nie en het ’n relatief klein persentasie aandeelhouding. Die derde aandeelhouer besit egter die meerderheid van die aandele en speel ’n belangrike rol in die daaglikse bedrywighede van die maatskappy. In die geval van sy dood of ongeskiktheid, wie sal ’n finansiële verlies ly? Dit is duidelik dat die maatskappy self die grootste gedeelte van die finansiële implikasies van so ’n tragedie sal dra. Hulle sal een van die sleutelrolspelers moet vervang. Daarom, deur hierdie vraag te beantwoord, het ons duidelik gedefinieer dat die maatskappy ’n polis moet voorstel op die lewe van die meerderheidsaandeelhouer.

VRA DIE VRAAG “HOEKOM?”
Die “hoekom” vraag word gevra om die behoefte te bepaal. Wat is die verhouding tussen die aansoeker/polishouer en die versekerde lewe en hoekom sal die polishouer ’n verlies ly by die lewensversekerde se dood of ongeskiktheid? Die antwoord op hierdie vraag bevestig die behoefte en stel dus die versekerbare belang tussen die polishouer en die versekerde lewe vas.

Deur die HOEKOM-vraag op die bogenoemde feite toe te pas, kan aangevoer word dat die maatskappy finansieel skade sal ly as gevolg van die verlies van vaardigheid en kennis en dit is waarom daar ’n behoefte aan vergoeding vir bedryfsverliese bestaan.

Hierdie vrae word gebruik om te illustreer hoe eenvoudig dit is om die struktuur van die oplossings te bepaal deur die regte vrae te stel. Moenie toelaat dat belasting op die verskillende strukture die plan wat ’n kliënt benodig, bemoeilik of belemmer nie. Die belasting op die polis wat in die verskillende strukture gebruik word, kan ontleed en aan ’n kliënt verduidelik word nadat die behoefte vasgestel is en die toepaslike oplossing geïdentifiseer is.

’n Stewige portefeulje kan uiteindelik gestruktureer word met die regte vrae om die behoeftes van ’n kliënt optimaal aan te spreek. Vir meer inligting kontak jou Certisure verteenwoordiger.