Bewaringslandbou - 'n Innoverende oplossing vir aardverwarming




Oplossings vir bewaringslandbou bied groeiende geleenthede vir beleggers en ondernemings en is tans in ’n groeifase, saam met ander landbouverwante markgeleenthede soos hernubare energie en presisieboerdery. Die belangrikste markdrywers vir bewaringslandbou is klimaatsaanpassing en waterrisikoverlaging.

In Suid-Afrika, ’n land wat gekenmerk word deur lae reënval, beperkte landbougrond en ’n groot kleinboerderygemeenskap, is bewaringslandbou noodsaaklik. Waterskaarste is wêreldwyd ’n groot bron van kommer, ook in waterskaars Suid-Afrika. Boonop dra die wanbestuur van ons in Suid-Afrika se gronde daartoe by dat waterafloop waardevolle grond daarmee saamneem.

Daarbenewens is twee derdes van die lande in Afrika se grond reeds tot ’n mate gedegradeer, wat in totaal ongeveer 485 miljoen Afrika-inwoners raak. Volgens dr Aubrey Venter, ’n bekende in landboukringe en voormalige direkteur van die destydse Transvaalse streek van die Departement van Landbou, verloor SuidAfrika jaarliks ’n geskatte 300 miljoen ton grond weens onvolhoubare landboupraktyke wat tot ernstige gronderosie lei. Dit is gelykstaande aan 10 miljoen volgelaaide 30-ton vragmotors. In sommige gevalle is hierdie verliese vier keer vinniger as wat die geaffekteerde grond deur natuurlike prosesse vervang kan word.

Ongeveer twee miljoen hektaar gewasland op die Suid-Afrikaanse Hoëveld is onderworpe aan ernstige winderosie. Hierdie gronde verloor tussen 20 ton per hektaar per jaar en 60 ton per hektaar per jaar fynmateriaal vanaf hul oppervlaktes, sowel as groot volumes organiese materiaal en stikstof. Sestig persent van SA gronde bevat reeds baie lae organiese materiaal.

Die verlies van landbougrond deur erosie bly uiters kommerwekkend, aangesien slegs 13% van Suid-Afrika geskik is vir gewasproduksie. Hiervan word slegs 3% as hoë potensiaal gewaslande bewerk. Dit is ook kommerwekkend dat die land se groot damme vinnig besig is om op te slik as gevolg van gronderosie. Ons kan nie voortgaan om nuwe damme te bou nie – dit is buitengewoon duur en nie altyd prakties nie.

Monique Barbut, uitvoerende sekretaris van die Verenigde Nasies Konvensie, is van mening dat indien die inwoners van Afrika suid van die Sahara, insluitend SuidAfrikaners, grond- en waterbestuur op slegs ’n kwart van die 300 miljoen hektaar bestaande landbougrond kan verbeter, kan voedsel- en veselproduksie van hierdie lande verhoog word met ’n ongelooflike 50%. Sy voer verder aan dat te veel bewaringslandbou-ingestelde produsente slegs een metode, soos geenbewerking, gebruik om hul gronde te herstel en volhoubaar te boer. Hierdie boere moet ook ander metodes implementeer om volhoubare landbou holisties te bevorder.



Wêreldwyd, sedert 2008/09, het die landbougewasarea met ongeveer 68% toegeneem en sedert 2013/14 met ongeveer 15% (Figuur 1). In 2015/16 het bewaringslandbou ongeveer 180 miljoen hektaar beslaan, of 12,5% van die totale wêreldwye jaarlikse oesland. Die persentasie graanboere wat bewaringslandbou in Suid-Afrika beoefen, is persentasiegewys soos volg: Wes-Kaap (80%), KwazuluNatal (70%), Vrystaat, Noordwes en Mpumalanga (maksimum 20% elk).

Daar bestaan ’n groot geleentheid en behoefte om bewaringslandbou in Suid-Afrika uit te brei. Slegs 15% tot 20% van kommersiële graanboere en 5% van kleinboere in Suid-Afrika het bewaringslandbou aangeneem (WWF 2018). Die belangrikste groentegnologiegeleentheid in bewaringslandbou sluit die plaaslike vervaardiging en verkoop van bewaringslandboumasjinerie in, wat tans meestal ingevoer word na Suid-Afrika. Die geraamde beskikbare markgeleentheid vir be - waringslandboumasjinerie in Suid-Afrika wissel tussen R136 miljoen tot R747 miljoen. Adviesdiensverskaffers bied verdere opkomende geleenthede in dekgewasse, aangesien dit wêreldwyd ’n belangrike rol in die produksie van droëlandgewasse speel, veral in droë en semi-droë gebiede.

Inisiatiewe vir bewaringslandbou in Suid-Afrika word suksesvol gedryf deur plaaslike bewaringslandbouboerderygroepe soos die “No-Till”-klub in KwazuluNatal, Bewaringslandbou Wes-Kaap en die Ottosdal “No-Till”-klub in Noordwes. Daar is ook ’n beduidende hoeveelheid beleggings in bewaringslandbounavorsing deur die Mielietrust, Graan SA, die Landbounavorsingsraad (LNR) en verskeie ander belanghebbendes.

Die positiewe omgewingsimpak van bewaringslandbou kan nie geïgnoreer word nie. Die koolstofbepaling van verminderde bewerking op 20% van SA se bewerkte landbougebiede is ongeveer 1,2 miljoen ton CO2 e (WWF 2018). As daar bewys kan word dat bewaringslandboupraktyke ’n beduidende hoeveelheid koolstof kan sekwestreer, kan dit die saak vir boere versterk om tot meer volhoubare praktyke om te skakel, aangesien geleenthede soos die kompensasie van koolstofkrediete ontstaan.

Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) het in 2017 ’n konsepbeleid vir bewaringslandbou vrygestel wat beleidsteunmaatreëls identifiseer om die aanneming van bewaringslandbou te bevorder, insluitend finansiële aansporings. Twee onlangse innoverende finansieringsinstrumente het ook die potensiaal om die aanneming van bewaringslandbou in Suid-Afrika te ondersteun.

Die SuidAfrikaanse Bankwese Assosiasie (BASA) en sy kommersiële banklede werk saam met DAFF aan ’n gemengde finansieringsinstrument wat die bevordering van natuurlike hulpbronbestuur insluit. ’n Kredietlyn van die Europese Beleggingsbank aan die Land Bank wat onlangs goedgekeur is, bevat ’n gedeelte krediet wat vir klimaatsintelligente landbou geoormerk is.

’n Gesamentlike poging moet aangewend word om die huidige beperkinge vir bewaringslandbou in Suid-Afrika aan te spreek. ’n Gebrek aan kennis rakende die belangrikheid van die implementering van al drie die aspekte van bewaringslandbou, naamlik minimum grondversteuring, permanente grondbedekking, en wisselverbouing moet aangespreek word. Die gebrek aan geskikte masjinerie vir plaaslike toestande (bv. klipperige grond), ’n vertraging tussen belegging en die realisering van finansiële opbrengste deur verbeterde opbrengste (relatief lang opbrengs op belegging van ongeveer 6 jaar), sowel as die hoë kapitaalkoste benodig vir toerusting en ’n nie-ondersteunende beleidsomgewing, moet ook aangespreek word.

Die bereiking van voedselsekerheid bly sentraal in verskeie nasionale en streeksprogramme en -beleide in Suider-Afrika. Bewaringslandbou is ’n innoverende manier om landbou-ekosisteme te be - stuur om hoër, volgehoue produktiwiteit, verhoogde winste en voedselsekerheid te bewerkstellig, terwyl dit die natuurlike omgewing verbeter. Aangesien die meerderheid van die bevolking in Suider-Afrika afhanklik is van landbou vir hul lewensbestaan, moet tegnologiese opsies wat landbouproduktiwiteit verhoog en boere kan ondersteun om die negatiewe gevolge van klimaatsverwante en ander beperkinge teen te werk, bevorder word.