Finansiële Resultate met Francois Strydom




Terugblik op superkommoditeitsiklus tot 2010
Vanaf 2000 tot 2010 is ʼn superkommoditeitsiklus ervaar, weens die feit dat dit goeie reënjare was. Die beste van twee wêrelde is ervaar, waar prys produksie getrek het, daar goeie verbruik was met goeie volumes en 'n groeiende BBP.
 
Siklus van 2010 na 2015
Vanaf die 2010/2011 het die siklus egter verander. Oor die afgelope ses produksieseisoene was daar drie swak jare, waarvan die laaste die heel swakste was, asook een normale en een gemiddelde jaar. Wat dit erger maak is dat dit volg op 2014/2015, jaar wat klaar ʼn sub-optimale jaar was.
 
In Senwes terme beteken dit dat ons graan oordrag voorraadvlakke daal in terme van benuttingskapasiteit. ‘n Tweede komponent is dat ons klantebasis toenemend onder druk verkeer. Produsente sny terug op kapitaalitems en by bedryfskapitaal word na kostebesparing gekyk. Volumes is laer en marges krimp, wat keer dat voorraadvlakke verhoog. Dit plaas druk op die balansstaat as gevolg van hoër koste. Al hierdie dinge dui op ʼn laer finansiële resultaat, wat ook gebeur het met Senwes se R156 miljoen netto wins wat baie laer was as die vorige jaar.
 
Die effek van twee seisoene
Wat ons ervaar is die effek van twee seisoene - die vorige jaar se oes en die nuwe jaar se aanplantings. Die nuwe jaar gaan ʼn baie swak oes en lae volumes hê weens die 32% minder hektare wat aangeplant is. Die 68% hektare wat wel aangeplant is, het ook sub-optimaal geproduseer. Waar ons normaalweg ongeveer 2.6 miljoen ton graan hanteer, sal ons net sowat 1 miljoen ton graan hierdie jaar hanteer.
 
Wat is die effek hiervan?
In die 2015/2016 finansiële jaar was die effek op die netto winslyn R100 miljoen. Die huidige jaar se potensiaal is R150 miljoen laer. In werklikheid het die insident  ʼn impak op drie jare. Die effek word op R40 miljoen tot R50 miljoen vir die 2017/2018 seisoen geraam. Dus ‘n totale potensiële effek van R300 miljoen.
 
2015/2016 Finansiële jaar
Senwes het ‘n omset van R9,2 biljoen en 'n netto wins van R156 miljoen behaal, en kontant van R500 miljoen is uit ons bedryfsaktiwiteite gegenereer. Die kontant is krities vir ons renterekening met klante wat onder kontantvloeidruk is, ons eie balansstaat swel en meer geld word aan finansieringskoste bestee. Dan moet die dividendbeleid ook gehandhaaf word. Ons het steeds ‘n opbrengs op ekwiteit van 8,5% gelewer. Die netto batewaarde was ten spyte van die omstandighede 48,7 sent per aandeel hoër, wat vertel dat Senwes steeds aandeelhouerwaarde veredel. ‘n Finale dividend van 20 sent is verklaar, wat die totale dividend vir die jaar op 45 sent per aandeel te staan bring. Dit gee ons 'n dividendopbrengs van 3,9% op ons openingsmarkprys.
 
Verskillende bedrywe tydens die afgelope jaar
Die afgelope jaar het ons verlaagde, maar steeds goeie graanvloeie gehad. Grainlink het relatief goeie resultate gelewer en ons is goed posisioneer rakende graanbestuursvermoë en is daar streng na koste-effektiwiteit gekyk. Insetbesighede was onder druk met Grainovation en Certisure wat nog goed gedoen het. Senwes Credit was ook onder druk.
 
Verwagtinge vir die nuwe jaar
Met laer graan wat deurvloei gaan afdelings onder druk wees met klante wat nog nie nuwe kapitaal het nie.  Die terugbetalingsvermoë van klante is ook onder druk. Ons gaan ʼn moeilike jaar tegemoet en sal baie effektief moet wees.
 
Verander die DNS van die maatskappy met klantgerigtheid en integrasie

Klantgerigtheid
Normaalweg sit Senwes en die klant aan weerskante van die tafel. Daar word nou van Senwes verwag om om die tafel te stap en saam met die klant na sy besigheid, langtermynbehoeftes en oplossings te kyk. Hier word nie meer net ʼn produk verkoop nie, maar oplossings.
 
Tweedens is die Senwes struktuur, strategies in verskillende afdelings ingedeel – fokus en vaardighede word apart gestruktureer wat intern sin maak. Dit moet ons egter nie verhoed om die klant op ‘n geïntegreerde basis te bedien nie. 
 
Al verkoop jy trekkers, moet jy vir jou klant kan sê dat hy nie nou ‘n trekker nodig het nie, maar eerder meganisasiebeplanning. Dan is jy besig om te integreer in die besigheid.” So word die klant deur die landbou-ekonoom gehelp om kontant te genereer sodat die vermoë volgende jaar bestaan om wel ‘n trekker te koop. 
 
Integrasie
Tans is daar net ‘n oorvleueling van 30% ten opsigte van die klantebasis, tussen die verskillende Senwes divisies. Daar is dus nog 70% potensiaal om mekaar se klante aan mekaar voor te stel. Gekwantifiseerd het dit ʼn effek op die netto lyn van sowat R100 miljoen. Intern is daar dus baie groter vermoë om inkomstelyne te genereer.
 
Wat het ons gedoen?
Finansiële lyne is herbeding en met R1 biljoen verhoog omdat klante onder kontantvloeidruk is, maar ook om Senwes se interne groei te finansier. Onthou: Ons klant kan homself nie uit die moeilikheid uit spaar nie. Hy kan homself net uit die moeilikheid uit boer. Ons moet geduldig wees met die vorige seisoen se skuld, en help met volgende jaar se finansiering – Ons is tipies in daardie maak-of-breekjaar.
 
Wat het ons nodig in die tyd? Direksie, personeel, klante en verskaffers
In so ʼn moeilike jaar is ‘n toegewyde direksiespan en komiteestruktuur wat op hulle werk gefokus is en uitnemende personeel wat ten spyte van die elke dag se konfrontasie steeds gemotiveerd bly van die uiterste belang. Dan ook ‘n klantebasis wat begrip het vir dit waardeur ons gaan en hoe goed dit is om ʼn vennoot in Senwes te hê wat aan sy kant van die tafel gaan sit om hom te help. Verder is insetverskaffers nodig wat jou ondersteun deur moeilike siklusse.
 
Hou die groter prentjie in die oog
By uitstek versoek ek dat ons as besigheid ʼn bydrae tot die gemeenskap moet maak, tot die ekonomiese aktiwiteite van ons gemeenskap, die produksievermoë, sowel as tot die personeel wat vir ons werk. Dan werk ons effektief en produktief aan Suid-Afrika. Doen die regte dinge op die regte manier sodat ons ʼn positiewe bydrae tot Suid-Afrika maak.
 
Terwyl ek dankie sê, vra ek ook dat jy nog harder sal probeer om  jouself, Senwes, die gemeenskap en Suid-Afrika in die proses te verbeter. Ons het nie êrens anders om heen te gaan nie. Ons moet ons eie land maak werk! Dankie aan elkeen van ons personeel wat hard gewerk het om die jaar en ook die toekoms te betree.