Hoe kan tegnologie my skiet verbeter?




As ons na ’n geweer se werking en sy styl kyk, het nie baie oor die laaste 50 jaar verander nie, maar wel baie verbeter. ’n Geweer is nog steeds ’n stuk gereedskap met onder andere ’n aksie, ’n loop, ’n kolf en ’n visier. Tegnologie het gehelp dat ons sterker aksies, akkurater lope, meer konstante ontbranding en beter koeëls het as 50 jaar gelede. Gelukkig is dit nie die enigste verbetering wat plaasgevind het die laaste klompie jare nie.

Van die grootste verbeterings wat ons oor die jare gesien het, is sekerlik ten opsigte van ons optiese produkte. Teleskope se vergroting en lense het baie verbeter. Hulle werking en ekstra funksies het ook baie verbeter oor die jare.

Die ander optiese produk wat jag vir ons baie makliker gemaak het, is die toetrede van afstandmeters tot die mark. Afstandmeters help ons om die presiese afstand wat ons wil skiet, te kan bepaal.

Aangesien ’n projektiel se kurwe oor 300 m tot soveel as 60 cm kan verskil, is die afstand wat ons wil skiet baie belangrik. ’n Ander baie handige toestel wat deesdae baie gebruik word, is ’n spoed­meter of chronograaf. Aangesien ons die spoed van ’n koeël kan bepaal, kan ons die trajek van die spesifieke koeël ook bepaal.

Maar die een stukkie tegnologie wat moontlik die grootste verbetering in skiet akkuraatheid tot gevolg het, is ballistiese tabelle wat deesdae as ballistiese toepassings op slimfone of tablette gebruik kan word. Die ballistiese toepassings stel ons in staat om die trajek van ons koeël vinnig en akkuraat te bepaal. Met 'n paar veranderlikes wat in die program ingeprogrammeer word, is dit vir ons nou baie maklik om te bepaal waar ons moet mik op watter afstand om ons teiken raak te skiet.

Met die verbetering van teleskope, tesame met die ballistiese toepassings, is dit nou moontlik om jou teleskoop te stel vir elke afstand wat jy wil skiet. Daarom kan ons makliker na teikens skiet op onbekende afstande as wat in die verlede die geval was.

Saam met die hoogte wat ’n koeël oor ’n afstand laer tref, druk die wind dit ook in ’n rigting in. Die afwyking wat die wind op ’n koeël het kan ook nou met ballistiese toepassings bepaal word. Daarom kan ons ook meer akkuraat oor lang, onbekende afstande skiet.

Met die inligting in jou toepassing ingeprogrammeer kan jy nou jou geweer gaan toets op die baan. Sit ’n teiken op ’n onbekende afstand. Gebruik die afstandmeter en bepaal die afstand. Gebruik die toepassing en bepaal hoeveel jy moet stel om op die afstand jou teiken te tref.

Natuurlik het tegnologie nog verder gegaan en die produkte saamgevoeg sodat ons net een produk nodig het. Swarovski sowel as Burris het ’n teleskoop wat 'n ingeboude afstandmeter het. Hulle bevat ook 'n ballistiese program wat jy kan program­meer vir jou spesifieke geweer. Jy kan dan met die druk van ’n knoppie die afstand bepaal wat jy gaan skiet - die teleskoop bepaal self waar jou kruishaar binne die teleskoop moet wees en jy kan die sneller druk vir die perfekte skoot. Tegnologie kan dus wel help om verder en meer akkuraat te kan skiet.