Knoffel: Die aroma van sukses




Senwes Scenario het produsent Pieter Maree op sy plaas besoek, wat tussen Klerksdorp en Ventersdorp geleë is. Maree, wat geleidelik sy knoffelproduksie oor die afgelope vier jaar uitgebrei het, het ons op 'n toer deur sy knoffellande geneem om die proses van die plant en groei van hierdie aromatiese plant en die winspotensiaal daarvan, aan ons te demonstreer. Knoffel is geliefd vir sy skerp aroma en word hoofsaaklik as geurmiddel in gekookte disse en stowegeregte gebruik.

Daarbenewens het die ouer mense ook sekere medisinale kwaliteite aan knoffel toegedig en glo dit genees enigiets van die gewone verkoue tot inflamasie. Met sulke veelsydigheid kan die bolplant net baie goed vaar in Suid-Afrika.

Die meerderheid Suid-Afrikaans gekweekte knoffel word op die varsproduktemark verkoop. Geprosesseerde produkte soos knoffelsmere, gekapte knoffel en knoffelbotter in verskillende vorms word ook verkoop, maar nie tot dieselfde omvang nie. Maree verduidelik dat, soos by pekanneut- en dadelproduksie, benodig die kweek van knoffel baie geduld, aangesien dit hom vier jaar geneem het om sy produksie op te bou tot die punt waar 'n redelike wins gemaak kan word.

Maree se advies wanneer iemand knoffel plant, is dat dit wys is "om klein te begin en produksie geleidelik op te bou". Hy bedoel daarmee dat jy nie oorhaastig 'n groot land vol knoffel moet plant nie. Dit is beter om minder te plant en geleidelik uit te brei.

Knoffel floreer in warm temperature. Lang, sonnige dae moedig bolformasie aan, veral gedurende die groeiseisoen. Daar word gesê dat die perfekte tyd om knoffel te begin plant, tydens die maande tussen Februarie en Mei is. Maak seker jy plant in goed gedreineerde, vrugbare grond met baie organiese materiaal, wat goed bewerk is voor planttyd ten einde los grond vir bolontwikkeling te verseker. Die grond bepaal die hoeveelheid water en kunsmis wat benodig sal word, maar knoffel kan gewoonlik suksesvol geproduseer word onder drupbesproeiing of sprinkelbesproeiing. Jy sal weet wanneer dit reg is om geoes te word - wanneer die boonste gedeelte van die blare droog begin word en dunner word. Knoffel word met die hand geoes en opgehang om heeltemal af te droog voor dit verpak en verkoop word.

Die Suid-Afrikaanse knoffelmark is tans nog relatief klein, maar dit groei vinnig. Die prys is tans sowat R53 per ton.