’n Boer maak ’n plan - Die belangrikheid van ’n strategie en die basiese elemente daarvan




WAAROM IS ’N STRATEGIE NODIG?
Indien ’n produsent ’n einddoel en roeping voor oë het, kan jy die uitdagings te bowe kom met ’n goeie strategie en ’n spesifieke plan. ’n Goeie en weldeurdagte strategie speel ’n onmisbare rol en is goud werd. Elke mens of besigheid het tog ’n mikpunt of doelwit en op ’n hoër vlak kan mens van ’n roeping praat.

SUKSES AS ’N DEEL VAN STRATEGIE
Dink bietjie daaroor: Indien jy nie mooi gedink het oor hoe jy by jou einddoel gaan uitkom nie, is my vraag: Hoe gaan jy dan daar uitkom?

DEFINISIE VAN STRATEGIE
Strategie kan eerstens gedefinieer word as ’n doelstelling en aksies en stappe wat geneem word om hierdie doelwitte te bereik. Hulpbronne tot jou beskikking moet ook optimaal aangewend word.

Om ’n goeie strategie verder te definieer, kan die eienskappe van ’n goeie strategie bepaal word:

  • ’n Strategie moet dinamies wees,
  • Dit moet jou in die rigting van jou doelwit neem,
  • Dit moet aanpasbaar wees want ons leef in ’n dinamiese omgewing,
  • Dit moet gebalanseerd wees.
Rakende balans moet daar nie te veel of te min van iets wees nie, dit moet in pas met die omgewing en die eise van die tyd wees. Dis belangrik dat jy moet weet wat ’n swak strategie kan wees.

Situasies wat dit kan voorstel, sluit in:

  • Om net te doen wat ander doen kan ’n swak strategie wees.
  • Om te doen wat ons nog altyd gedoen het, is ook ’n swak strategie.
Onthou! Al bly jou einddoelwitte dieselfde, gaan die pad wat jy moet neem aangepas moet word – hierin lê waarskynlik die kuns van ’n strategie.

KOMMUNIKASIE
Kommunikasie van jou strategie met sleutelpersoneellede, ander personeellede asook ander instansies vorm alles deel van jou boerdery en skep ’n positiewe en gemeenskaplike energie van waarheen ons op pad is. Dit sluit aan by bestuurswaardes soos beleid, integriteit, goeie kommunikasie asook diens aan die breër gemeenskap, wat kollektief saamwerk.

MONITERING
Ná kommunikasie volg gereelde monitering en toepassing binne ’n vinnig veranderende wêreld. Dink byvoorbeeld nou reeds oor wat jy oor maande van nou af gaan bemark. Ons weet dalk nie wat die prys en opbrengs gaan wees nie, maar het ’n redelike idee wat koste per hektaar sal wees.

Die skilderdoek is skoon - met die kombinasie van opbrengs en prys wil ons ’n sekere rendement hê en daarom werk ons na langtermyngemiddelde, kyk na wêreldvoorrade en plaaslike omstandighede.

OORWEGINGS TYDENS MONITERING VAN ’N STRATEGIE
Dit moet beklemtoon word dat strategie nie slegs monetêre en materiële oorwegings moet insluit nie, omdat selfverwesenliking en roeping ook van belang is. Goeie waardegroei is die maatstaf van ’n goeie strategie. Groei en netto waarde is die opperste toets van sukses en volhoubaarheid.

DOKUMENTERING
’n Wetenskaplike aanslag met doelwitdatums leer jou hoe jy dink. Hierin is kontinuïteite vasgevang met baie lesse, positiewe aspekte, gevaarligte en aansporings. Dit alles vorm ‘n patroon waarmee jy gemaklik is en dit moet lewendig en dinamies gehou word.

Fokusareas binne ‘n strategie

INDIEPTE KENNIS EN KONTEKS
Strategie kan ’n wye konteks beskryf - dit kan van ’n mielieseisoen strek tot ’n vyf- of tienjaarplan tot loopbaandoelwitte - in alle gevalle speel inligting en kennis egter ’n groot rol. “Ons kan nooit alles weet nie. Hoe meer jy analisties dink, hoe meer kennis jy bymekaarmaak, hoe meer effektief en suksesvol gaan jy wees in die formulering van jou strategie.”

PROAKTIEWE OPTREDE
Pas proaktiewe bestuur toe. Begin eers met die einddoel in gedagte. Bepaal waarvoor jy die strategie ontwerp en of dit aanpasbaar moet wees.

“Ons produsente is baie keer geneig om reaktiewe bestuur of skadebeperking toe te pas. Dit gebeur gewoonlik wanneer ons onder druk is as daar min tyd is – dan hanteer ons krisisse en dit wat dringend is. Die uiteinde hiervan is dat ons dit wat belangrik is, verwaarloos. Maak dus tyd vir ’n strategie, tree proaktief op en volg ’n analitiese benadering.

FINANSIËLE DOELWITTE
Almal verstaan kapitalisme en die ekonomie. Die ekonomie het, soos die natuur, basiese wette en dit moet in jou strategie ingebou word sodat jy die impak daarvan verstaan. “Wanneer jy die regte strategie volg, maak dit soveel ander deure vir jou oop wat dan kan oorspoel tot bemagtiging van mense en ’n positiewe effek op die omgewing. Wanneer ’n land se ekonomie wen, wen almal. Wanneer ’n boerdery se ekonomie wen, kan almal soveel meer daarby baat.”

VENNOOTSKAPPE IN LANDBOU
Besef dat ons verseker nie alleen in die wêreld is nie. Ons het mekaar nodig en moet verseker dat goeie energie uit ’n kollektiewe poging genereer word. Daar is baie voorbeelde van goeie aksies wat voorspruit uit vennootskappe tussen boerderye, tussen personeellede asook vennootskappe tussen buite-instansies soos georganiseerde landbou.

TEGNOLOGIE
Daar is ’n golf van tegnologie wat oor die wêreld spoel en wat boerdery insluit. ’n Mens moet die goeie daaruit neem want dit speel ’n groterwordende rol. Kyk byvoorbeeld na WhatsApp - ons almal gebruik dit en dit kos ons niks. Ons moet egter ook waarsku teen die oortoepassing en misbruik van tegnologie – “Jy moet voor op die wa wees maar nie voor van die wa af val nie".

MENTORSKAP VAN JONG PRODUSENTE
Elke produsent en boerdery skep ’n organisatoriese kultuur, bewustelik of onbewustelik. Dit word geskep deur die integriteit waarmee jy met almal omgaan en kan die basis van mentorskap vorm. “Jy kan ’n lyn tussen die beginnerboere trek, die wat weet waarheen hulle op pad is, en die wat glad nie gedink het oor waarheen hulle wil gaan nie en bloot net doen. Toe ek begin boer het, het ek reeds gedink oor die roetes wat ek kan volg. ’n Klein besluit vandag kan jou oor 10 jaar op heeltemal ’n ander plek laat.”

ONTWERP ’N STRATEGIE MET PASSIE EN TYD
Dit is belangrik om ’n passie vir besigheid te hê en te doen wat jou opgewonde maak. Raymond Ackerman het gesê: Vergeet van geld maak en doen net waarvan jy hou. Strategie is soveel makliker as jy doen waarvan jy hou en jy oortuig is van dit wat jy doen.

Dink baie ernstig oor jou besigheid. Dit was Albert Einstein wat gesê het: “The significant problems we face cannot be solved by the same level of thinking that created them.” Jy het dus nodig om op ‘n nuwe vlak te dink om ‘n skerper strategie te hê. Daai buitengewone dinksessie het nog altyd goeie resultate gelewer. Plot jou loopbaan, een ding op ‘n slag, en stukkie vir stukkie word dit deel van jou strategie.

BLY POSITIEF IN JOU STRATEGIE AS DIE GETY DRAAI
Die weer vandag is een groot risiko - jy kan soveel dinge reg doen en jou strategie kan uitstekend wees, maar dit is die weer wat die laaste sê het. Jou strategie moet egter beter wees - jy moet 'n risikoprofiel hê wat alle aspekte insluit, insluitend jou ouderdom en jou aptyt vir risiko.

SLOT
Foute wat begaan word is om blindelings net te doen, versuim om ’n goeie strategie te ontwerp en om baie moeite en tyd in ’n strategie te plaas en dit nie aan te pas wanneer die doelpale skuif nie. Dink waarheen jy wil gaan en watter einddoelwit vir jou aanvaarbaar sal wees. Deur jou loopbaan te beplan, sal die stappe wat jy vandag moet neem, bepaal word.

Indien strategie jou bang maak, kry net ’n goeie plan op die tafel. Begin met wat nodig is en wat belangrik is. Wyk af van jou gewone roetine en besluit watter skuif jou nader gaan bring aan waar jy wil wees.