Voorspoed vir 2019




Ons is telkens uitgedaag deur ekstreme dinge. Onder hierdie omstandighede sou ons klantebasis aan die een kant van die besigheid, ons boere en produsente, die fokus geword het van alles wat die afgelope vorige 100 jaar sedert 1913 rondom grond verkeerd gegaan het. Hulle moet nou daardie blaam dra. Ten spyte daarvan kon ons klantebasis aan die produksiekant dit steeds regkry om ‘n 17,2 miljoen ton oes en daarna ‘n 13 mil­joen ton mielieoes met lae internasionale kommoditeitspryse en natuurlik geen sub­sidies van die regering nie, af te lewer. 

Hiermee saam kon hulle ook wat ander proteïen- en veselbronne aanbetref, sorg dat die Suid-Afrikaanse bevolking van 57 miljoen mense bekostigbare, voldoende en veilige voedsel kon hê. Dit is ‘n merk­waardige prestasie. Daarbenewens kon hulle ook vir 65% van die 250 miljoen mense in die SAOG sorg en kon hulle nog steeds in dié twee jaar ook voldoende produseer sodat ons mielies, vesel en vleis kon uitvoer - ‘n merkwaardige prestasie. Om in hierdie politieke klimaat vorentoe te kyk, is ‘n besonderse uit­daging. Ek self het baie moed daarvoor omdat ek weet, soos vorige geslagte, dat ook hierdie geslag toegerus is om hierdie uitdagings te hanteer. 

Dit gaan nie net oor die vaardigheid van beide ons klan­tebasis aan die produksiekant en aan die verwerkingskant nie. Dit gaan ook nie net oor hulle kapasiteit en ver­moë nie, maar dit gaan ook oor hulle wil en houding en ook veral oor hulle geloof - die feit dat hulle nie net goed doen omdat dit ‘n inkomste tot gevolg het nie, maar ook omdat daar ‘n vaste motivering is, ‘n rede hoekom hulle goed doen.

Ek wil u alles van die beste toewens vir 2019. Mag u saam met u gesin en u geliefdes ‘n kort rustydjie geniet. Mag u werklikwaar ook vervulling in u geloof vind. Dan wil ek ook net die beste vir u vir 2019 toewens. Dankie dat u Senwes en Senwes se personeel ondersteun en baie dankie dat u ook in die sektor u kant bring. Doen wat u moet doen om ook daardeur ‘n bydrae tot die gemeenskap en ook tot die groter land te kan maak. Ek het baie respek vir julle wat volhoubaar in die voedselwaardeketting werk - dit is werklikwaar iets en iemand om op trots te wees. Senwes kyk met groot verwagting uit na 2019 - ons sal dit maak werk!

Beste groete

Francois Strydom

Senwes HUB