Pietsap van Rensburg - Meneer John Deere!




Modeltrekkers is sy passie
Meneer John Deere was al manier om Pietsap en sy versameling te beskryf toe Senwes Scenario, takbestuurder, Waldo Venter en landboubesigheidsbestuurder, Marietjie Grobler hom besoek het.
 
Met vertoonkas op vertoonkas vol, is die eerste vraag hoeveel trekkers hier nou eintlik is. Met sy antwoord as 5001 17 13 24, kry ons nie ‘n werklike getal uit hom nie. Maar volgens 'n vinnige berekening staan hier beslis ‘n hele paar duisend skaalmodelle. 
 
Hier is alles vanaf John Deere trekkers, ploeë, belde, gordel gespes en traptrekkers - noem dit en dis hier. Selfs John Deere sneeumanne, huise en tydskrifte - die lys is legio. Selfs sy Ford bakkie se nommerplaat lees JD TOYS en alles in sy huis is ook John Deere, selfs die brandblussers is groen, met handelsmerke wat oral aangebring is. Selfs die skinkbord, glase en koppies waarmee ons bedien is, is John Deere.
 
Waar het alles begin?
Pietsap se versameling het op 8-jarige ouderdom begin met sy pa, Hennie, wat ‘n Ford modeltrekker vir hom gekoop het nadat hy hom ‘n pak slae gegee het. Maar dié is vinnig opgespeel. Hulle het met Ford trekkers op die plaas Doornbult gewerk tot hulle in 1977 na John Deere oorgeskakel het. Die plaatjie spot met omtrent elke sin: “Hondjies se ogies gaan na so 7 dae oop. My oë het egter eers na 17 jaar oopgegaan.”
 
Doornbult tot nou
In sy versameling is daar ook ‘n spesiale plekkie vir skaalmodelle van hulle plaastrekkers op Doornbult, waar hy grootgeword en tot en met 2010 geboer het, naamlik die 8630, 3130, 3140, 4430, 4440, 2140 en 965.
 
Hy vertel tong-in-die-kies dat sy boerdery met Simmentalers, vleismerino’s, sonneblom, mielies en akkerbone van so ‘n aard was dat die koöperasies nie in hom belang gestel het nie - “Maar hierdie speelgoed het gemaak dat ek die manne van groot landboubesighede al ontmoet het.”
 
Die werklike begin was in 1989, met ‘n John Deere toer na die VSA, waar hy gesien het dat hy trekkertjies kan invoer. En sedertdien was hy al ses keer daar om, soos hy dit stel, “te gaan trekkertjies speel.”
 
“In 1990 het Jim Procter sy John Deere 820 by Ekspo 3 op my naam uitgestal.” By Ekspo 4 het Henry Lindemann sy John Deere 730 ook op Pietsap se naam uitgestal. “My land se vlag het daar gehang en dan voel jy sommer baie klein,” sê hy met ‘n knop in sy keel. En alles het gesneeubal tot nou.
 
Toe hy in 2010 na Schweizer-Reneke verhuis het, het die trekkertjies ook saamgetrek. Baie sorgvuldig het hy elkeen in- en uitgepak, want ieder en elk het ‘n unieke verhaal waaraan hy baie terugdink.
 
SAMTA
Die trekkertjies is in baie opsigte eintlik ʼn bysaak volgens hom, want SAMTA (Suid-Afrikaanse Modeltrekker Assosiasie) is die hoofsaak. Hy was vir jare voorsitter van SAMTA, waar hulle al selfs 300 lede gehad het. Sy motto is dat hy nie wil weet hoe dik jou tjekboek is nie. As jy ledegeld betaal, is jy lid en almal is gelyk. Hy is ook trots op die huidige voorsitter, Frans Jacobs, wat sy tande hier geslyp het. SAMTA gaan oor die liefde van die saak, lekker samesyn en jy loop ‘n pad met mense. Maar ‘n trekkertjie bly maar ‘n lekker verskoning.
 
Maar watter een is vir hom die belangrikste? “Hulle is almal belangrik. Laat ek jou so vra. Jou kinders, watter een kies jy. Jy kan eenvoudig nie” – hoewel hy laat glip dat die eerste skaalmodel van hout in sy studeerkamer baie uniek is.
 
Hy is ook bekend vir sy restourasiewerk aan modeltrekkers en het ook sy werksarea aan ons gewys. Hy lag lekker en sluit af met: “ ʼn John Deere maak jy reg, en ‘n .... (die ander) gooi jy weg.” Soos wat dit net ‘n John Deere man betaam. Maar na wie kyk die man op? Beslis Groen Karel Bezuidenhout van Elliot – “Daar is nou ‘n groot John Deere man met baie passie.”
 
Rykdom en aantal modelle
En waardegewys? Met nog ‘n grap sê hy dat die versameling so een pond tien en ses werd is, maar volgens hierdie waarnemer kan geen waarde aan so ‘n versameling gekoppel word nie. Geld kan dit eenvoudig nie koop nie, hoewel baie dit al probeer aanskaf het. Al wat Pietsap sê is: “Dit maak nie saak hoeveel modelle jy het nie. Of jy een of ‘n 1001 het, dit hang af hoe jy dit hanteer.”
 
Hy meet sy rykdom egter aan John Deere traptrekkers. As kind het sy pa gesê dat net die ryk ooms na Glaudina se kant, John Deere trekkers, ‘n Ford bakkie en ‘n Mercedes motor gehad het en die kinders het John Deere traptrekkers gehad waarop hy nie mag gery het nie. Nou het hy ‘n hele paar, en in die opsig is hy nou stinkryk.
 
Besoek Pietsap self
 
 
Maar moenie my woord aanvaar nie. Pietsap van Rensburg het ook gereeld besoekers wat sy uitstalling besoek - so kom kyk self en teken die register om dit amptelik te maak. Want sien is mos glo! En dan is daar ook ‘n motorhuis vol Mercedes-Benz modelle wat ook in hulle duisende hier pryk.
 
Indien jy belangstel in so ‘n besoek, kontak Pietsap van Rensburg by 082 772 7200. En as jy die laaste afdraai na sy huis neem, sal jy sommer dadelik sien dat die hele straat se randstene groen en geel geverf is. Dan weet jy jy is op die regte plek en dan ry jy tot by John Deereweg - en daar sal jy vir Pietsap kry.