Plaasaanvalle is nie ‘n liggewig saak nie




Die gemeenskappe is nie net betrokke by die prosesse en strukture van die Landelike Beveiligingstrategie nie, maar is daadwerklik besig met die implementering van nuwe inisiatiewe. Kreatiewe en oplossinggedrewe ingesteldheid is die dryfkrag agter suksesvolle implementering hiervan om ‘n veiliger leef- en werksomgewing te skep.

Enige plaasaanval is traumaties, maar wat positief is, is die pogings wat mense en organisasies soos Agri SA en die AgriSecuritas Trustfonds aanwend om die te help. Weerstand teen plaasaanvalle is ‘n faktor wat ‘n groot deel van die bevolking saambind.

Meer as 12 500 plaasaanvalle oor ‘n tyd­perk van 19 jaar en ‘n moordsyfer van meer as 1 700 oor die tydperk, spreek boekdele van die misdaadaanslag op boere en plaaswerkers. Dit maak van plaasaanvalle en die effek op landbou nie ‘n liggewig saak nie en bly dit ‘n prioriteit vir Agri SA. Daar word ‘n premie op landbou-ontwikke­ling en werkskepping deur die Nasionale Ontwikkelingsplan op die landbousektor geplaas, wat slegs kan plaasvind in ‘n veilige omgewing. Landelike misdaad is omvangryk en maak dat oplossings rakende beleid, samewerking, paraatheid en effektiewe polisiëring gesoek moet word. Die AgriSecuritas Trustfonds is een van die instrumente wat in die praktyk op ‘n prak­tiese wyse ‘n bydrae maak.

Dit bly moeilik om te verduidelik dat Agri SA en die AgriSecuritas Trustfonds alles moontlik in werking stel om die veiligheidsituasie te verbeter. Die skakeling se doel is om ‘n beter basis daar te stel om die fenomeen van landelike misdaad beter te hanteer. Voortgesette skakeling met veiligheidsrolspelers op regeringsvlak vind ger­eeld plaas, maar kan op plaaslike vlak ver­beter. Sommige van Agri SA se provinsiale affiliasies vind dit moeilik om op ‘n volge­houe basis konstruktiewe skakeling te bewerkstellig en dit maak die toepassing van beleid, strategieë en prosesse moeiliker.

Daarom beywer die AgriSecuritas Trustfonds hom vir ‘n veiliger landelike omgewing deur beveiligingsprojekte op boereverenigingvlak te ondersteun wat hiertoe sal bydra. Projekte is gerig op voorkomende maatreëls asook nasorg. Dit sluit in bystand vir kommunikasienetwerke, kamerastelsels, logistieke behoeftes, val­hekke en verskaffing van traumaberadings­dienste. Die Trustfonds is ook betrokke by ‘n inisiatief van Agri SA om oor die langtermyn op ‘n gestruktureerde wyse aandag te gee aan ‘n onderliggende persepsieprobleem wat bydraend tot die onaanvaarbare hoë voorkoms van plaasverwante misdade en aanvalle is, naamlik die wanpersepsies wat by die breër gemeenskap bestaan oor kommersiële landbou en hoe dit verbeter kan word.

Hoewel die Trustfonds gefokus is op verbetering van die landelike veiligheidsituasie en ondersteuning van beveiligingsprojekte, kan beveiliging deur proaktiewe beplanning in werking gestel word. Proaktief beteken om op enige voorval bedag te wees. Hoewel individue in staat is om hulself in ‘n mate te beskerm, is ‘n waaksame gemeenskap ‘n doeltreffende afskrikmiddel. Landelike beveiliging bestaan hoofsaaklik uit die beveiliging van die huis, inoefening van gebeurlikheidsbeplanning, organisering van optredes en inligtinginsameling, kommunikasie tussen werkgewer en werknemer, met die breër gemeenskap, asook plaaswagte. Moenie geleenthede vir misdadigers skep en raak betrok­ke by georganiseerde landbou en die implementering van landelike beveiligingsplanne. Geen beskermingsmaatreëls is ‘n waarborg dat ‘n plaasaanval nie sal plaasvind, maar dit kan dit vertraag.

Een van die pilare vir die suksesvolle implementering van die Landelike Beveiligingstrategie is die reservistestelsel. Met ‘n goed funksionerende plaaswagstelsel, asook aktiewe gemeenskapsbetrokkenheid, kan reserviste ‘n belangrike beveiligingsmeganisme wees. Reserviste hou misdaad in toom en behoort op plaaslike vlak bevorder te word. Kernfunksies van reserviste behels algemene funk­sionele diens op stasievlak, die voorkoming, bestryding en ondersoek van misdaad, handhawing van openbare orde, beskerming van landsburgers en eiendom en die handhawing/ afdwinging van die wet. Dit is daarom belangrik dat plaasgemeenskappe betrokke raak by beveiligingstrukture