Planttyd is hier




GROND

  • Is die gronde (lande) gekarteer – fisies en chemies?
  • Is die nodige regstellings gedoen?
  • Is die opbrengspotensiaal van die verskillende lande/sones bekend?
  • Moet lae-potensiaalgronde nie aan kontantgewasproduksie onttrek word nie?
  • Hoe lyk die verskillende lande se grondwaterstatus?  Natter lande kan eerste geplant word, terwyl die droër lande nog tyd gegun word om reën te ontvang voor dit geplant word. ‘n Grondboor is handig om te kyk wat die grondwaterstatus in die grondprofiel is.

PRESISIEBOERDERY

In vorige uitgawes van die Scenario is daar breedvoerig oor presisieboerdery berig en wat dit behels, dus gaan dit nie nou weer in diepte behandel word nie.


KULTIVARKEUSE

Daar is ‘n groot verskeidenheid kultvars tussen al die saadverskaffers beskikbaar – maak seker dat die kultivar(s) wat gekies word, aangepas is vir die betrokke omgewing en opbrengspotensiaal.  Maak ook gebruik van die MIELIE-INLIGTINGSGIDS (MIG) wat jaarliks deur die LNR-Instituut vir Graangewasse uitgegee word om ‘n ingeligte besluit te neem.  Indien “nuwe” kultivars oorweeg word, beproef dit eers op ‘n beperkte skaal.  Om risiko te beperk, is dit goed om altyd ‘n kultivarpakket te gebruik.


PLANTDATUM

Plantdatum is ‘n belangrike aspek by die suksesvolle verbouing van gewasse.  So byvoorbeeld behoort die grondtemperatuur bo 15°C te wees voordat mielies geplant word en is die ideale grondtemperatuur 18°C.  By temperature laer as 10°C ontkiem mielies nie.  Plantdatum moet, as dit moontlik is, aangepas word sodat mielies nie gedurende ’n moontlike mid-somerdroogte in die blomstadium is nie.

Sonneblom ontkiem by 4°C, maar optimale ontkieming en ontwikkeling vind by grondtemperature van tussen 12°C en 20°C plaas.

Die moontlike voorkoms van laat ryp by vroeë aanplantings en vroeë ryp by laat aanplantings moet ook in aanmerking geneem word.

Benut optimale planttoestande en gebruik slegs goeie, beproefde agronomiese praktyke.


BINNERYSPASIëRING

Plantpopulasie en rywydte het ‘n invloed op die binneryspasiëring, maar net so belangrik is eweredige spasiëring en lei  dubbel-pitte en dus gapings tot opbrengsverliese.  Kultivars kan net tot ‘n mate kompenseer vir gapings in die rye.  Die gelyke ontkieming en opkoms van al die sade is belangrik en ‘n goed gespasieerde plantestand is deel van die fondasie van suksesvolle gewasverbouing.


RYSPASIëRING

Ryspasiëring varieer tussen verskillende gebiede en ook tussen droëland- en besproeiingverbouing.  Daar is ‘n neiging om al nouer rywydte te plant om binnerykompetisie te verminder.  Omskakeling van implemente is egter duur.


PLANTDIEPTE EN SAAD-GRONDKONTAK

Egalige plantdiepte is net so belangrik om egalige ontkieming en opkoms te verseker en onegalige ontkieming en opkoms lei ook tot obrengsverliese.

Plantdiepte en drukwielverstellings het ‘n groot invloed op die ontkieming van die saad. Vir die saad om grondvog vining op te neem, moet die saad in goeie kontak met die grond wees.  As die druk hoog is, sal die grond te dig vasgetrap wees en sal die saailing nie opkom nie of gekompakteerde wortels veroorsaak.


Bronne:


Gerrit Oosthuizen is ‘n senior akkerboukundige by Senwes.  Skakel hom gerus vir enige navrae by (018) 293 1968 of 084 506 8791. ‘n E-pos kan gestuur word na gerrit.oosthuizen@senwes.co.za