Samesmelting en Skenkingsbelasting





In sulke gevalle, kan jy 'n testament kry waarvolgens gades, getroud in gemeenskap van goedere hul boedels of ‘n deel van hul boedels "saamsmelt". In sulke gevalle moet mens verstaan wat met "samesmelting" bedoel word en wat die praktiese en belastinggevolge van samesmelting is.


So, wat is samesmelting?

Die aparte boedels van die gades word saamgesmelt en gekonsolideer in een boedel by die dood van die eerssterwende gade. Dit beteken dat enige twee persone onder 'n gesamentlike testament hul afsonderlike boedels of sommige van hulle bates kan saamsmelt.


Indien kliënte graag samesmelting as deel van hul Boedelbeplanning wil inkorporeer, moet dit duidelik in die boedel en in terme van die gesamentlike Testament bepaal word.

Die oorlewende kry gewoonlik 'n voordeel in die vorm van 'n beperkte reg of kan 'n lewensreg van die saamgesmelte boedel geniet. Die beperkte reg kan in die vorm van 'n vruggebruik, fidusiêre belang, annuïteit of enige ander beperkte reg wees.

So in kort, 'n saamgesmelte boedel is 'n boedel wat gevorm word uit die afsonderlike boedels van 'n persoon wat gesterf het en 'n persoon wat nog lewe, deur voorsiening te maak vir die samesmelting in hul gesamentlike Testament.


Wanneer 'n afsterwe plaasvind:

  • moet die oorlewende kies of hy die voordele aanvaar waarop hy geregtig is ingevolge die gesamentlike testament;
  • en of hy eienaarskap van sy aandeel in die saamgesmelte eiendom opgee.

Indien die oorlewende gade besluit om nie die voordele ingevolge die gesamentlike testament te aanvaar nie, sal hy eienaarskap en beheer van sy eie boedel behou, in welke geval samesmelting nie sal plaasvind nie.


Met ander woorde, die oorlewende sal 'n keuse hê om te voldoen aan die samesmelting-instruksie van die gesamentlike Testament, of om die samesmelting-instruksie in die gesamentlike Testament te weier.


Indien die oorlewende verkies om die effek van die samesmelting wat deur die gesamentlike Testament geskep is, te weier, sal die boedel van die eerssterwende party volgens die gesamentlike Testament (sover moontlik) afgehandel word sonder om die bates van die oorlewende in ag te neem.


Voorbeeld van 'n "samesmeltingklousule" in 'n testament:

Spesiale bemaking

"Ons bepaal dat vir doeleindes van hierdie bemaking ons gemeenskaplike boedel saamgesmelt word en as ‘n geheel gehanteer word. Ons bemaak ons Karoo Plaas-eiendom tesame met al die vee in gelyke dele aan die Testatrise se seuns A en B, onderhewig aan die lewenslange vruggebruik van die oorlewende van ons en vry van die verpligting om enige sekuriteit te verskaf."


Kom ons kyk na die volgende voorbeeld:

  • Peter en Britney is getroud in gemeenskap van goedere;
  • Hulle het hul gesamentlike boedel saamgesmelt in terme van hul gesamentlike Testament, met die plaas wat op hul kinders oorgaan, onderhewig aan die oorlewende wat vruggebruik oor die genoemde eiendom het;
  • Peter sterf eerste;
  • Britney aanvaar die bepalings van die Testament.

'n Mens moet verstaan dat Britney  haar een helfte van die gemeenskaplike boedel vervreem en in ruil daarvoor vergoeding kry in die vorm van 'n vruggebruik oor die eiendom. Indien die waarde van die vruggebruik minder is as haar een helfte van die gemeenskaplike boedel, sal die bedrag wat die waarde van die vruggebruik oorskry, 'n geagte skenking wees ingevolge artikel 58 van die Inkomstebelastingwet.


Komplekse finansiële planne lei meer dikwels as nie tot negatiewe belastingimplikasies wanneer dit die minste verwag word, met negatiewe gevolge vir familielede. Dit berus by jou finansiële raadgewer om saam met ander gekwalifiseerde professionele persone 'n plan op te stel wat voldoen aan jou behoeftes met so min ontwrigting as moontlik.