Senwesters wys hul slag tydens Mandeladag




Personeel van die Senwes Groep het hul tyd en hulpbronne afgestaan om onbaatsugtige diens te lewer rondom Senwes Hoofkantoor in Klerksdorp, waar slaggate herstel en rommel opgetel is. Die verskillende afdelings en gesamentlike ondernemings binne die Senwes Groep, was in drie spanne opgedeel om sodoende by al die geïdentifiseerde punte diens te lewer. 

Senwes HUB, Francois Strydom, wat ook hand bygesit het, het tydens die verrigtinge beaam dat hy trots is op sy personeel se ingesteldheid: “Indien jou houding reg is en daar positief aan prosesse deelgeneem word, dan kom dinge gewoonlik vinniger reg as wat daar aanvanklik beraam is.”

Die spanne se gesindheid, gedrag en toewyding was kenmerkend en samewerking was aan die orde van die dag waar hulle ook hand-aan-hand met personeel van die Matlosana munisipaliteit gewerk om die slaggate te herstel. Tesame met regmaak van slaggate het Senwes ook ‘n verdere 6 ton teer aan die plaaslike munisipaliteit geskenk om ander paaie in die stad reg te maak.

Die inisiatief is die begin van ‘n groter beweging deur die Senwes Groep om ‘n volhoubare verandering in die gemeenskappe en omgewings rondom die 237 bedryfspunte waar Senwes handel dryf te bewerkstellig.

Strydom het afgesluit: “Die vraag is of jy die pad, sypaadjie en area voor jou woning of bedryfspunt gaan herstel en skoonmaak, of gaan jy wag vir iemand anders om dit te doen?


Deur so ‘n klein gebaar kan ieder en elk eenheid met die mensdom vorm en ‘n tree nader aan die wêreldwye beweging vir die goeie neem. Kom ons eer vandag Oud Pres. Nelson Mandela se 101ste verjaarsdag, met dié gesindheid van sy Madiba-nalatenskap.

Navrae: Francois Strydom
Group Hoof Uitvoerende Beampte