Tussentydse Resultate met Francois Strydom




Hoe vertoon die finansiële kant?

Die wins na belasting van R103 miljoen is 9.7% laer as die ooreenstemmende tydperk van verlede jaar. Die realiteit van laer volumes, 'n 42% afname in die hoeveelheid graan ontvang, stel die 9.7% in perspektief. Strydom is van mening dat die balansstaat en kontantvloeistaat eintlik baie belangriker is as die inkomstestaat. “Dit dui die langer termyn gesondheid van die maatskappy aan.”

Hoekom was die afnames nie groter nie?

As mens na die 42% afname in graanvolumes kyk, was ons resultate veronderstel om met ‘n baie groter persentasie te daal. Hoekom het dit nie gebeur nie? Senwes word gekenmerk deur gestruktureerde en gedissiplineerde optrede. Dit word weerspieël in kostebeheer en effektiwiteitsverhoudings. Daarbenewens is die  debiteureboek ook uiters nougeset bestuur. Die onderskeie besigheidseenhede kon steeds markaandeel handhaaf en party het selfs verbeter soos Grainlink Silobedryf, Senwes Credit en Senwes Equipment wat almal by uitstek markaandeel gehandhaaf het.

Francois se sienings oor realiteit

Daar is twee dinge ter sprake. “Moet nie die realiteit toedraai in mooi papier nie. As jy in besigheid is, kyk jy die realiteit vierkantig in die oë.” Tweedens is die houding waarmee jy jou die besigheid bedryf, ongeag die omstandighede, absoluut krities. Dit is belangrik om te onthou: “Slegte goed gaan gebeur. Dan moet jy dit reg hanteer.”

Die huidige situasie word ontleed

“Ons het hier te make met ʼn natuurverskynsel, El Niño, waarvan die impak baie groot is. Dit is nie iets wat gaan gebeur nie. Dit is iets wat reeds gebeur het en steeds besig is om te gebeur. Ons neem dit waar in die afname in reënval, temperature wat veel hoër is as die gemiddeld asook windvolumes wat uitermatig hoog is."

Onthou: Ons is in Afrika

Onthou dat ons in 2014 reeds ʼn baie droë jaar gehad het. Die huidige insident impakteer ook dramaties op die droë grondprofiel. “In Afrika en Suid-Afrika is dit gewoonlik 'n situasie van oorvloed of hongersnood. Dis hoe Afrika lyk. Uit hierdie oogpunt is droogte nie abnormaal nie. Die El Niño verskynsel is egter 'n  buitengewone insident."

Aspekte wat die ekonomie opsom

Met die uitsondering van ‘n paar lande is die wêreld-GDP en verbruikers onder druk. Die Suid-Afrikaanse wisselkoers het reeds met 25% verswak, so ons het te doen met ‘n verswakkende wisselkoers. Dit het ook ‘n effek op voedselpryse op die mees basiese vlak van voedselvoorsiening en die effek op die laer LSM groepe was in die omgewing van 23% tot 25%.

Sosiale onrus word wyd waargeneem. Daar was baie diensleweringsbetogings soos #feesmustfall en ander, wat alles aanduidings is van die hoë werkloosheidkoers, verbruikers wat onder druk is, ongeduld met  politieke nepotisme en kriminele aktiwiteite. Gewone werkende en vredeliewende mense se ongeduld is op ʼn hoë vlak. Dit is die realiteit.

Hoe beplan ons vir die toekoms?

“Beplan vir die ergste en hoop dit gaan ʼn bietjie beter. Dit gesê moet jy wel positief wees. As jy in besigheid is, en jy is negatief, is jy op die verkeerde plek. As jy negatief is, het jy in ’n vreesingesteldheid en is jy op die agtervoet. Jy kan nie vindingryke planne maak nie. Dis maar ‘n menslike ding".

Positiewe aspekte in ons besigheid

Ons gaan aan met ons programme. Veral met sentrale graanopberging, waar ons die innamekapasiteit sowel as die innamespoed en die vermoë om graan te deurlug, verhoog. Ons gaan ook voort om die Graintech program uit te rol wat 'n kapitaalbesteding van vêr oor die R100 miljoen behels. Indien mens in slegte tye daarmee sou stop, moet jy dit sekerlik bevraagteken.

Gedurende die afgelope 18 maande het ons twee megatakke op Wesselsbron en Hoopstad geopen. Natuurlik plaas dit ons onder druk oor die korter termyn.  As mens egter nie nou belê nie, benadeel jy jouself as dit weer beter gaan. Verder het ons ook besluit om Grainovation se totale vloot te vervang. Dit is reeds ʼn paar jaar oud met sommige vragmotors wat reeds 800 000 km op die klok gehad het.

Senwes het ook die grootste enkele mieliekontrak in die land suksesvol beding en in die proses met 12 ander bieërs en al die multi-nasionale maatskappye wat deel was van die proses, gekompeteer. Die mieliekontrak is die afgelope 15 jaar reeds toegeken aan een van dié multi-nasionale maatskappye.

Die hoogste trekkermarkaandeel in die geskiedenis is deur Senwes Equipment gehandhaaf. 
Tydens die eerste 6 maande van die finansiële jaar was daar 'n positiewe kontantinvloei van R500 miljoen. Operasionele aktiwiteite alleen het 'n positiewe kontantsituasie van R187 miljoen gereflekteer na koste en belasting.

'n Goeie dividendvloei word gehandhaaf, wat beteken dat positiewe kontantvloei vir boere dadelik beskikbaar is. Aandeelpryse is ook gehandhaaf, wat boere met  'n beter vermoë laat om hulself te handhaaf.

Betrokkenheid met aksies rondom die droogte

Ons het vyf aksies geloods wat getuig van positiewe optrede. Die Droogterampfonds is op die been gebring met Senwes  wat self R1 miljoen geskenk het.  Groot bydraes is ook van ander besighede ontvang. 

Hinterland het ook met die onmiddellike behoefte rondom veevoere en waterbehoeftes gehelp in die vorm van minimale marges op toerusting en ander produkte (R4.5 miljoen se marges in totaal).

Grainovation het bystand verleen in die vorm van gesubsidieerde vervoer van ruvoer. Landboudienste verleen op sy beurt droogtebestuurshulp vir die aktiewe bestuur van diere en aanplantings. Ook by Senwes Credit word daar persoonlik en nougeset met elke kliënt ontmoet om sy besondere situasie te evalueer.

Wat beteken dit alles?

“Dit beteken dat ons besig is om op ‘n humanitêre vlak in te gryp. Nie net by Senwes produsente en hulle werkers nie, maar op alle vlakke. Die manier hoe ons elke kliënt hanteer getuig van begrip, geduld en die behoud van besigheid.”

Realiteit nou in landbou

Die regering se vermoë om kommersiële landbou te ondersteun is beperk. Dit is ‘n ekonomiese en politieke werklikheid. Hulp word aan beginnerboere gelewer in 'n poging om stemme te werf. Die kommersiële landbousektor is egter op homself aangewese. Dit laat ‘n groot leemte maar ons sal aanhou vra vir hulp. 

“In my daaglikse skakeling met groot besighede in die sektor wat soos ons lyk, inset- en diensverskaffers hoor ek net van positiewe ondersteuning.”

“Ek dink nie daar is ʼn ander sektor wat mekaar op dieselfde wyse ondersteun nie. Die realiteit is egter dat jy jou besigheid ook in hierdie tyd moet beskerm. So, jy kan nie bloot nou alle besigheidsdissiplines oorboord gooi en deure open nie.”

Op geestelike vlak

Senwes het openlik sy afhanklikheid van die Skepper verklaar en aan verskeie bidaksies deelgeneem.  Ons erken met oorgawe dat ons van die genade van ons Hemelse Vader afhanklik is.

Ten slotte

Die realiteit is dat dit waarskynlik eers slegter sal gaan voordat dit beter sal gaan. Die effek van die droogte sal vir die volgende drie jaar gevoel word.  In Senwes se geval sal die impak op die huidige jaar waarskynlik tussen R40 miljoen en R80 miljoen wees en sowat R120 miljoen na R180 miljoen in die volgende jaar, gebaseer op die aanname dat 2016 ʼn normale jaar sal wees. As daar weer ʼn droogte is, sal dit absoluut katastrofies wees.

“Ek dink ons het die situasie op die bes moontlike wyse hanteer met die maatreëls wat ons in plek gestel het.  Ons hoop dat dit die maatskappy sal beskerm en sy behoud verseker."

Die eindresultaat van die volgende 18 maande sal van die bestuur van die groep afhang.  Dis waar die wonder van menswees intree - ons het die vermoë om keuses te maak. Die toets is hoe die gevolge van die keuses hanteer word en welke aksies geneem word.   

Boodskap aan produsente

“Boere moet in dié stresvolle tyd nie wag nie. Hulle moet onmiddellik hul kredietverskaffers nader en probleme met hulle bespreek.  Eers dan kan ʼn mens beplan. Dit is nie nou  tyd om weg te kruip en stil te bly nie.  Die meeste boere is realisties en pragmaties en hanteer sulke insidente goed en maak weer nuwe planne.”