Vervangingsverse - Met goeie bestuur die belangrikste bateklas op jou plaas




Met goeie bestuur die belangrikste bateklas op jou plaas

Ongelukkig is dit juis dié belangrike bateklas wat soms nie na wense presteer nie, met gevolglike langtermyn negatiewe finansiële gevolge. In hierdie artikel kyk ons na die redes daarvoor en bespreek hoe ons dit as batebestuurders kan aanspreek.

DIE VERVANGINGSVERS 
Per definisie is ’n vervangingsvers ’n vroulike dier wat onder natuurlike toestande só ontwikkel, dat sy nagenoeg 66% van haar volwasse gewig op die ouderdom van ongeveer 18 maande bereik, waarna sy dan suksesvol gedek kan word, en op nagenoeg 85% van haar volwasse gewig, geboorte sal gee aan ’n lewende kalf.
Voorts moet sy ’n 90% kans hê op herbesetting en moet sy minstens 45% van haar eie liggaamsgewig speen. Die verwagting is voorts dat sy elke jaar vir die volgende 10 tot 12 jaar ’n kalf moet speen met ’n TKP van < 400 dae. Uit die definisie van ’n vervangingsvers, kan ons sien dat die verwagting baie hoog is en begin ons om te verstaan hoekom die opbrengs (kalfpersentasie, speenmassa en herkonsepsie %) soms teleurstellend is.

DIE ROL VAN GOEIE BESTUUR 
Die invloed van die fondsbestuurder ten opsigte van die spesifieke bateklas kan nie genoeg beklemtoon word nie. Dit sluit alle aspekte van kuddebestuur in – van toesig en gesondheidsbestuur tot voedingsbestuur asook seleksie. Ons sien nog te gereeld in die praktyk dat verse iewers in ’n bergkamp geplaas word en byna van vergeet word om hulle ‘hard’ te maak – voorwaar ’n resep vir ’n swak opbrengs.
Net so wanneer die vervangingsgroep te gou by die res van die koeikudde geïnkorporeer word. Die riglyn is om vervangingsverse te bestuur as vervangingsverse, totdat hulle vir die tweede keer deur ’n veearts as dragtig gesertifiseer is. Dit behels basies ’n driejaarprogram. Die potensiaal van die vers as toekomstige kuddekoei, word hier vasgelê.

WAAR BEGIN SELEKSIE? 
Seleksie begin reeds tydens die moeders se dekseisoen. Gee veral voorkeur aan verse wat vroeg in die dekseisoen gebore is. Nie net speen hulle gemiddeld swaarder nie, maar daar is ook ’n hoë korrelasie tussen koeie wat vroeg kalf en wanneer hulle dogters tydens die seisoen sal kalf. Ideaal gesproke behoort 60% van koeie binne die eerste drie weke van die kalfseisoen te kalf, en moet voorkeur aan die verse gegee word.

Na speen moet seleksiemaatstawwe soos speengewig (minstens 10% swaarder as die gemiddelde speengewig van die verse in die groep), korrekte bouvorm, goeie vroulikheid en geslagsontwikkeling in ag geneem word. Hierdie kan as die eerste rondte seleksie gesien word en daarom word aanbeveel dat produsente op hierdie stadium voorsiening maak vir die aantal verse wat geselekteer word, omdat van die verse by die tweede rondte mag uitval.

Die tweede rondte van seleksie is met speentyd, nadat die vervangingverse die eerste keer gekalf het (inaggenome dat hulle voor die dekseisoen deur ’n veearts rektaal ondersoek is om te verseker dat hulle voldoende geslagsontwikkeling toon). Hier word aspekte soos herkonsepsiepersentasie (het sy beset geraak binne die eerste 42 dae van die dekseisoen), speenmassa (het sy 45% van haar eie massa gespeen) en groeitempo (het sy self in massa toegeneem na kalf) in ag geneem – alles is aanduiders van haar aanpasbaarheid.

JOU VEEARTS SE ROL 
Jou veearts se rol en dan ook die daarstelling van ’n doelgerigte inentingsen ontwurmingsprogram, kan nie genoeg benadruk word nie. Van die belangrikste inentings vir verse moet reeds voor speen toegedien word. Beskou inentings as ’n langtermynbelegging in jou verse en tree proaktief op.

Daar word nog heeltemal te laat opgetree en dan is dit nodig om brandweerman te speel en vure dood te slaan. Let veral op vir geslagsiektes. Dit geld veral by produsente wat van tyd tot tyd vervangingsverse inkoop. Dring aan op veeartssertifisering wat bevestig dat die diere negatief getoets het vir heersende geslagsiektes.

Moet ook nie vergeet van die jaarlikse skraaginentings voor die dekseisoen nie. Dit is en bly die beste belegging in die opbou van siekteweerstand.

BESTUUR VAN DIE GROEIKURWE 
Daar is baie studies gedoen op die groeitempo van vervangingsverse en gevolg like reproduksieprestasie in die kudde. Ons weet dat hoe vroeër ’n vers vir die eerste keer kalf, hoe hoër sal haar produktiwiteit vir die res van haar lewe wees. Dit is egter hoogs gekorreleer met haar vlak van voeding, veral in die periode tot die aanloop van haar eerste dekseisoen.

Proefwerk op drie verskillende rasse het getoon dat verse wat gemiddeld 700g/dag gegroei het, teenoor verse wat gemiddeld 350g/dag gegroei het, se persentasie hittewaarneming op 14 maande bykans 25% hoër was. Weeg jou verse gereeld en volg ’n strategiese aanvullingsprogram om by die verlangde teikenmassas uit te kom.

Neem in ag dat omgewings- en rasvariasies wel voorkom en dat enige voedingsprogram dienooreenkomstig aangepas moet word. Dit sal onder andere verhoed dat diere in oormatige kondisie is. Onthou ook dat verse hulle teikengewig voor die aanvang van die dekseisoen moet bereik – weereens die klem op proaktiewe bestuur.

Ons sien dikwels dat vervangingsverse, veral in hulle eerste winter, dieselfde lek kry as die koeigroep (basiese winteronderhoudslek), terwyl haar behoefte eerder neig na ‘n meer produksiegeformuleerde lek (waak hier egter teen te hoë energievlakke).

Hierdie is een van die hoofredes waarom verse nie by die gewenste teikenmassas uitkom met die aanvang van die dekseisoen nie.
Dit benadruk die uitgangspunt dat vervangingsverse nie te gou by die res van die koeigroepe geïnkorporeer moet word nie. Deur hulle tot na die tweede dekseisoen apart te bestuur, laat ruimte vir beter voedingsbestuur.

SLOTGEDAGTES 
Bestuur jou vervangingsverse as die belangrikste bateklas op jou plaas en beskou die koste van ’n doeltreffende gesondheids- en voedingsprogram as ’n langtermynbelegging in die produktiwiteit van die vers. Moet ook nie die rol van die bul vergeet wat betref die afwesigheid van geslagsiektes, dekbehendigheid en korrekte keuse in terme van kalwingsgemak nie.

Werk nou saam met jou veearts in die daarstelling van ’n gesondheidsprogram wat aangepas is vir jou omgewing, en ook met jou veekundige wat jou aanvullende voedingsprogram en die bestuur van jou voervloeiprogram betref. Dit sal verseker dat diere teen die korrekte groeikurwes ontwikkel.

Daar is geen geheime of kitsresepte nie. Produsente wat daarin slaag om verse suksesvol in hul kuddes te vervang, is produsente wat hou by die basiese beginsels en nie kortpaaie najaag nie.