Wapenlisensies steeds geldig – wat beteken hofuitspraak?




Senwes Scenario se jagrubriekskrywer, Jan-Lodewyk Serfontein, noem dat die uitspraak beteken dat alle vuurwapenlisensies wat onder die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000) verval het, steeds geldig is.
 
Dit volg na die SA Jagtersvereniging se suksesvolle hofaansoek teen die polisie, wat  in Maart 2016 teen die Minister van Polisie ingedien is, waarin hulle die grondwetlikheid van artikel 24 en 28 bevraagteken het.
 
Serfontein sê dat benewens dié uitspraak, het die hof ook artikels 24 en 28 as ongrondwetlik verklaar. Hy vertel dat artikel 24 basies daaroor handel dat alle vuurwapens waarvan die lisensies verval het, ingehandig moet word en dat vuurwapen¬lisensies drie maande voordat dit verval, hernu moet word. Artikel 28 handel weer oor hoe jy strafregtelik vervolg kan word.
 
Serfontein vertel dat die hof die Parlement nou 18 maande gee om die wet te herskryf, waarna die Grondwethof die artikels sal hersien. “Dit is maar ‘n proses wat gevolg sal word,” sê hy. “Ek was reeds op Dinsdag, 4 Julie, by die SAPD waar die antwoord aan my was dat hulle nog wag op skriftelike kennisgewing om die prosesse deur te voer.” Serfontein noem dat vuurwapeneienaars wat hulle vuurwapens die laaste twee jaar vrywilliglik ingehandig het, volgens sy raming ongeveer twee weke moet wag totdat alles in plek is om hulle vuurwapens op te eis. Sy raad is om jou distriksvuurwapenbeampte in verband hiermee te kontak. 
 
Ander goeie nuus is dat die SA Jagtersvereniging ʼn nuusbrief uitgestuur het dat indien jy reeds vervolg is, kan jy aansoek doen dat dit ook tersyde gestel word. Serfontein self weet van gevalle in Gauteng en die Wes-Kaap waar vuurwapen-eienaars vervolg is, wat groot verligting vir hulle sal bring.
 
Nie net het SA Jagters die hofsaak gewen nie, maar ʼn kostebevel is ook ten gunste van SA Jagters uitgereik - die nuutste raming is dat die hofsaak hulle sowat R1,26 miljoen uit die sak gejaag het.
 
Serfontein sê dat hierdie ʼn groot oorwinning vir jagters is: “Wat my veral opgewonde maak is dat die uitspraak beteken dat ons nou net vorentoe kan kyk en op die toekoms kan bou. Dit beteken dat jy wel jou wapen wetlik kan besit en dat jy nie op ʼn ongrondwetlike manier ontwapen kan word nie. Jy mag ʼn wapen besit om jou lewe te beskerm.”
 
Op die vraag oor hoeveel Suid-Afrikaners hierdeur geraak word het Serfontein so gereageer: “Talle mense word hierdeur geaffekteer en die SAPD self weet nie eens wat die impak is nie. As dit nie was vir navorsing deur die SA Jagters en MJ Hood and Associates nie, sou ons nooit geweet het hoeveel geaffekteer word nie. Die uitvoerende hoof van SA Jagters, Fred Camphor, het wel aangedui dat ongeveer 200 000 vuurwapeneienaars of selfs meer nou baie verlig is.
 
Serfontein is vol lof vir die SA Jagtersvereniging. Hyself is al amper ʼn dekade lank lid van SA Jagters en beveel aan dat ander ook moet aansluit. “Dit is baie lonend om by SA Jagters aan te sluit. Nie net veg hulle vir jou regte in hierdie en ander hofsake nie. Hulle bied jou ook jaggeleenthede, skietgeleenthede asook skietbane waar jy jou gunsteling sportsoort kan beoefen.”    
 
“Dit uitspraak beteken in kort dat jy nou weer alles wettiglik met jou wapen kan doen, jou sport kan beoefen en indien jy dit ook te verkoop, kan jy dit ook nou doen,” sê hy opgewonde.
 
Dit bring ook ʼn einde aan die feit dat sekere provinsies oor die laaste paar jaar laat aansoeke aanvaar het terwyl ander dit weer nie gedoen het nie. Serfontein sê dat die Vrystaat byvoorbeeld laat aansoeke, in die drie maande voor die vervaldatum, hanteer het waar ander dit weer nie gedoen het nie.