Wat gaan die uitkoms van die nuwe seisoen wees?




Reënval verloop hierdie seisoen: 
Die somer seisoen se reënval verloop word vanaf 01 Julie jaarliks geneem. Julie maand het gemiddeld die laagste reënval van al die maande in die Senwes gebied met gemiddeld 2 millimeter. Dit het gemiddeld 46 millimeter gedurende Julie vanjaar oor die Senwes gebied gereën. Daar word soms beweer dat goeie reen gedurende die winter tot swakker reen in die midsomer aanleiding gee. Sedert 1904 was daar net 4 seisoene waar daar meer as 35 millimeter gedurende Julie oor die Hoëveld gereën het. Dit was die 1918/19, 1939/40, 1943/44 en 1957/58 seisoene. Al vier seisoene het bogemiddelde reënvalle gerealiseer. Die 1943/44 seisoen was die natste seisoen oor die Hoëveld sedert reen algemeen gemeet is.

Dit het basies glad nie oor die grootste gedeelte van die Senwes gebied gedurende Augustus gereën nie. Sien meegaande kaart.


 
Vir die eerste twee maande hierdie seisoen het dit bogemiddeld gereën oor die tradisionele Senwes gebied. Daar is distrikte in die Senekal omgewing wat die hoogste reënval vir Julie gemeet het oor die hele geskiedenis wat reënval in die gebied gemeet is.

Die meegaande kaart dui die gebiede aan waar die goed vir die afgelope twee maande gereën het. Die reen het ʼn baie goeie bydrae gelewer tot die oorgedraagde grondvog oor ʼn redelike groot gedeelte van die tradisionele Senwes gebied, wat weer by dra tot die optimisme dat ons ʼn beter seisoen te gemoet gaan.
 



Vooruitsigte vir die 2016/2017 seisoen: 
Daar was redelike negatiewe beriggewing die klimaatsvooruitsigte vir die komende seisoen oor sekere nuusmedia die afgelope tyd gewees. Nie alle weervooruitskattingsdienste stem daarmee saam nie. Kom ons kyk na van die stand van die belangrikste klimaatsindikatore.

Daar is ʼn hele paar indikatore waarna weerkundiges kyk om die komende seisoen se verloop mee te voorspel. Die Suidelike Ossilasie Indeks is een van die belangrike indikatore en dui op die windrigting wat winde in die sentrale gedeelte van die Stille Oseaan waai. Indien die indeks negatief is, beteken dit dat die winde in die Sentrale stille Oseaan hoofsaaklik vanaf Australië na Suid Amerika waai. Dit gee aanleiding tot warmer seetemperature in die NINO3-4 gebied.  Dit is gewoonlik nie goeie nuus vir die somer seisoen se reënval verwagting in Suid Afrika nie. Tans is die indeks redelik konstant na aan zero, wat op sigself nie ons so bekommer maak nie.
 



Wat egter nog belangriker is, is wat met die seetemperatuur in die NINO3-4 gebied in die Stille Oseaan gebeur. Sou die gebied se gemiddelde seetemperatuur warmer as normaal is, beteken dit dat dit ʼn sekere invloed op die sirkulasie patrone van vog in die wêreld het wat gewoonlik negatief op die verwagte reënval oor Suidelike Afrika inwerk. Wat ons tot groot optimisme stem is die feit dat die seetemperatuur in die NINO 3-4 gebied besig is om af te koel. Ons kom uit ʼn periode waar die seetemperatuur in die betrokke gebied die hoogste in etlike jare was en ons het ʼn sterk El Nino episode ondervind met baie swak opbrengste in die westelike gedeelte van die somer reënval gebied. 



Die afwyking van die seetemperatuur in die NINO 3-4 gebied word in die volgende twee kaarte aangedui. Hier word verlede seisoen se Augustus 2015 se seetemperatuur afwyking aangedui en ook die Augustus 2016 se seetemperatuur afwyking. Dit is duidelik dat die seetemperatuur in die NINO 3-4 gebied vanjaar baie kouer is as die vorige seisoen. Die kanse dat ʼn volwaardige La Nina tipe seisoen vanjaar kan ontwikkel is redelik groot. Soos ons al ondervind het, het La Nina tipe seisoene gemiddeld beter gewas opbrengste gelewer as El Nino tipe seisoene.



Wat ons wel bekommerd maak en dit is dat die meeste weervoorspellingsdienste aandui dat die reenseisoen laat gaan begin, eers teen die einde van November. Ons dink aan die uiters swak toestand van ons natuurlike en aangeplante weidings en die uiters lae stand van ons vernaamste opgaar damme. Die onderstaande kaarte is die van die Suid Afrikaanse Weerdiens wat die verwagte voorkoms van reen die komende seisoen aandui. Die verwagte tendens ten opsigte van lente reen word deur verskeie weervoorspellingsdienste gedeel. Ons hoop egter dat die somer reen vroeër gaan kom. 



Opsomming en gevolgtrekking:
Daar is heelwat redes om meer optimisties oor die komende seisoen te wees. Ons begin in die meeste gevalle met beter onder grondvogtoestande en dit blyk of ons uit die greep van die pas afgelope El Nino episode is. Wat ons net bekommerd maak en dit is dat die reenseisoen redelik laat kan begin. Ons bid, hoop en vertrou dat daar uitkoms gaan wees na die uiters droë jare wat die meeste produsente die afgelope paar jaar ondervind het.

Artikel geskryf deur Thys Grobbelaar, Senior Graananalis, Senwes Grainlink op 08 September 2016