Westfert Koepel troon uit in Hoopstad




Grootste gebou in die Suidelike Halfrond

Tydens Senwes Scenario se besoek het eienaar Pieter Burger en sy vrou Marietjie, wat die bemarking hanteer, vertel dat die struktuur die einde is van ‘n meer as drie jaar lange proses. Die beplanning wat reeds in 2014 begin is, met bouwerk wat in alle erns in November 2015 begin is, sal na verwagting teen April 2017 voltooi word.

Westfert Koepel in syfers

Om mee te begin is die koepel 174 meter lank en 116 meter breed, wat dit amptelik die grootste alleenstaande struktuur in die Suidelike Halfrond maak. Hoogtegewys staan dit sowat 24 meter of nagenoeg 9 verdiepings hoog. Om dit in ʼn produsent se perspektief te plaas, behels die Westfert Koepel sowat twee hektaar wat onder dak is en met ʼn kapasiteit van ten minste 180 000 ton word produsente werklikwaar vooropgestel.

Enorme voordele vir produsente

Voordele van die Westfert Koepel vir produsente is daar vele. Elke boer kan nou sy eie behoeftespesifieke  kunsmis laat meng. Kunsmis asook verskillende grondstowwe kan nou ook op verskillende tye aangekoop word, en natuurlik teen ʼn beter prys. Produsente spaar dan ook op arbeid, stoorspasie en versakkingskoste. Daarbenewens kan kunsmis ook in losmaat gemeng word en op die plaas verskaf word. In kort maak die koepel die ketting tussen die produsent en verskaffer nou nog korter.

Vir Westfert self kan hulle nou ook op die regte tye van die jaar vooruitaankope doen. Nog ʼn voordeel is meer beheerde lewering omdat hulle nie meer so direk afhanklik van skeepsvervoer is as in die verlede nie, wat beteken dat die raklewe van kunsmis ook verleng word. Dit alles stel hulle in staat om die beste diens aan die produsent te kan lewer en die beste kwaliteit kunsmis aan hulle te voorsien.

Wat maak die koepel so spesiaal

Die Westfert Koepel is juis perfek geleë om produsente in veral die westelike mielieproduksiegebied te ondersteun. Hier in die warm Vrystaat is die klimaat ook baie meer ideaal en nie vogtig soos by hawens nie, want die groot gevaar vir kunsmis  is natuurlik water. Met die uitmuntende ventilasie in die gebou is die temperatuur tussen 6 en 9 grade koeler as buite, wat kunsmis se raklewe ook baie verbeter. Die gebou is ook spesifiek gebou met die Vrystaatse winde in gedagte. Die struktuur is basies soos ‘n vliegtuig se vlerk ontwerp, wat winde met ‘n spoed van tot 150km/h kan hanteer.

Trotse verskaffers aan Senwes

Westfert kunsmis, wat deur Vetrivier Boeredienste vervaardig word en al meer as 25 jaar in die kunsmisbedryf is, het ‘n baie hegte verhouding met Senwes wat al vir meer as 22 jaar strek. En nou gaan die diens net beter word. Die doelwit is juis om die standaardmengsels by alle Hinterland takke in Suid-Afrika beskikbaar te stel. Baie produsente is reeds Senwes klante en koop deur Senwes by Westfert.

Nog feite oor die Westfert Koepel

Die multimiljoenrandprojek het 22 ellelange boë wat oor die lengte van die gebou strek. Elke boog bestaan uit 10 dele. Interessant is dat meer as 100 vragte nodig was om die boë van Johannesburg na Hoopstad te vervoer omdat slegs twee dele op ‘n enkele vrag vervoer kon word. Dan is daar ook amper 28 kilometer se sink wat die dak en struktuur van die Westfert Koepel vorm, asook 8 kilometer pyp.

Ek is seker jy stem saam dat hierdie struktuur voorwaar ‘n pragstuk en ‘n aanwins vir die landbousektor is. Vir meer inligting en kontakbesonderhede besoek die webwerf www.westfert.com.