Wie kan jy vertrou? Aanlyn-Slim!




Dit word toenemend belangrik om jouself ingelig te hou oor die vloei van inligting tussen onsself en sosiale media. Aan die ander kant moet ons wys wees met betrekking tot wat ons op sosiale media plaas en versigtig wees oor die inligting en beelde wat ons tot ons brein toelaat.  Selfs meer belangrik, ons moet alles wat ons lees eers verifieer voordat ons dit glo!

Vals nuus
My WhatsApp was vandag oorvol met die boodskap “Laat weet alle kontakte in jou boodskaplys om nie Jayden K. Smit as kontak te aanvaar nie, hy is 'n netwerkvandaal - hy gaan in jou rekenaar indring!!!” Ek het onmiddellik die feite nagegaan op www.snopes.com, die internet verwysingsbron vir legendes, gerugte en vals inligting (probeer dit - dit help).  Dit was 'n vals gerug! Ek het agtergekom dat daar verskeie soortgelyke gerugte is: 'Die aanvaarding van 'n Facebook vriendskapsversoek vanaf 'n vreemdeling sal nie toegang aan netwerkvandale verleen tot jou rekenaar en aanlynrekeninge nie.'

Nog 'n gerug op Facebook was dat die Minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, kinders waarsku om nie te veel te lees nie, aangesien dit breinkanker kan veroorsaak. Dit is maklik om sulke nuus te lees, op share te klik en op die wyse vals nuus te versprei. Die waarheid is dat Motshekga passievol is oor lees en 'n veldtog genaamd Lees om te Lei geloods het. Laat dit 'n les wees om nooit inligting aan te stuur wat ons nie eers geverifieer het nie.

Ons het nog nooit vantevore soveel inligting tot ons beskikking gehad nie en of hierdie vloed van inligting sal help om ons slimmer en meer ingelig te maak of meer oningelig en bekrompte, hang van onsself af. Neuro-wetenskaplike Daniel J. Levitin sê: “What looks like (and reads like) the truth may be riddled with lies if you look more closely.” VALS INLIGTING is volop en het dramaties toegeneem!

Algemene strategieë om vals inligting openlik te versteek is die volgende:

  • Versteek leuens tussen 'n paar waarhede - 'n effektiewe tegniek is om 'n klomp verifieerbare feite te noem en een of twee onwaarhede daarby te voeg.
  • Webbladmaskerades - baie webtuistes is vals, gebruik misleidende name en gee voor om te wees wat hulle nie is nie. As 'n webtuiste vir jou verdag lyk, soek totdat jy kan sien wie die eienaar van die webtuiste is. Soek op Google na wie almal met die blad gekoppel is.
  • Syfers word buite konteks gekwoteer - op hierdie wyse kan die verkeerde indruk maklik geskep word. Suiwer sensasie!
  • Stellings word gebaseer op vals bronne - Gewetenlose skrywers maak daarop staat dat die meeste mense nie voetnotas lees of aanhalings nagaan nie. Wanneer 'n produk te goed klink om waar te wees, soek verder.

Mediageletterdheid
In 'n wêreld waar enigiemand enige 'nuus' enige tyd die wêreld in kan stuur, moet ons ons eie vlak van mediageletterdheid ontwikkel om te voorkom dat ons maklik 'n slagoffer word. Verbeter jou aanlynkennis deur die volgende riglyne deur joernalis Laure McClure oor hoe om werklike nuus van vals nuus te onderskei:

  • Wie is die skrywer? - Soek altyd vir 'n joernalis se naam. Doen navorsing oor die persoon en of hy/sy 'n reputasie het om die waarheid te publiseer.
  • Wat is die feite? - Werklike nuus sal verskeie primêre bronne aandui wanneer 'n kontroversiële saak bespreek word. 'n Vals nuuswerf sal vals bronne gebruik. Indien jy twyfel, soek verder. Feite kan geverifeer word.
  • Wanneer is dit gepubliseer? - Kyk na die publikasiedatum. As dit belangrike nuwe nuus is, wees ekstra versigtig.
  • Waar is dit gepubliseer? - Werklike nuus word deur betroubare mediabronne gepubliseer, wat 'n sterk rekord het met betrekking tot die publikasie van feite. 
  • Hoe laat dit jou voel? - Vals nuus of propaganda is bedoel om sterk emosies te ontketen. As jy verskriklik kwaad word, wag 'n bietjie en haal diep asem. Kyk dan op ander nuusblaaie en besluit of dit waar of vals is. Moenie alles glo wat jy lees nie. Logiese denke kan met niks vervang word nie.

Wees bewus daarvan dat jou sosiale mediateenwoordigheid mense beïnvloed
Jou aan-lyn reputasie
Toe ons onderhoude gevoer het met potensiële nuwe huurders vir 'n meenthuis, was dit maklik genoeg om 'n naam op Facebook in te tik om 'n idee te kry van die huurder se geskiktheid al dan nie! Die persoon wat foto na foto op Facebook laai wat wys hoe hy wild partytjie hou ... wel, hy is vinnig van die lys af verwyder!

Ken jy iemand wat werk soek?
Maatskappye wat nuwe werknemers wil aanstel, doen ook hul navorsing. Dit beteken waarskynlik dat hulle ook loer na sosiale media rekeninge. Hulle kry 'n redelike goeie idee van 'n aansoeker anders as dit wat in sy netjiese CV vervat is - en dit is heeltemal wettig om dit te doen. So, as jy weet van iemand wat werk soek, raai hom aan om eers 'n bietjie sosiale media opruiming te doen om sodoende sy aanlynbeeld te verbeter!

Facebook-wenke
As jy ongewenste items op jou Facebook-blad kry, hoef jy nie hulpeloos te voel nie. Jy kan dit wat daar verskyn, bestuur. In die boonste, regterkantste hoek sal jy 'n pyltjie vind - V. Klik daarop en die volgende lys sal verskyn: Save link, Hide post, Unfollow, Report this post en Turn on/off notifications for this post.

  • As jy later na die item wil verwys, klik op ‘save link’ en dit sal onder dié opskrif gaan lê. 
  • Om 'n item te verwyder, klik op, ‘Hide post’
  • As jy belang stel in 'n gesprek, klik op ‘Turn on notifications for this post’ en die gesprek sal op news verskyn.
  • As 'n item aanstoot gee, is dit die moeite werd om dit te rapporteer - die Facebook administrateurs sal daarop reageer.

Moenie 'n slagoffer wees nie: Kritiese denkvaardighede
Roxanne Bailey, lektrise by NWU, sê kritiese denkvermoë is 'n belangrike lewensvaardigheid. Onderwys moet ten doel hê om dit te bevorder aangesien ons in 'n era leef waarin individue daagliks gekonfronteer word deur 'n massa inligting en ons moet kan onderskei tussen waarhede en leuens. Ons het almal 'n verantwoordelikheid om ons hoër-orde denkvermoë te ontwikkel. Dit is 'n uitdaging, maar nie onmoontlik nie, veral as ons die keuse maak om onsself teen vals inligting te beskerm. Net soos wat inligting beskikbaar is deur die aanraking van 'n vinger, so is die verifiëring van die inligting ook beskikbaar. Ten slotte, bespreek hierdie saak ook met jul kinders. Hulle het selfs meer te doen met aanlyn 'nuus' as jy en dit is nodig dat hulle moet leer om altyd die geloofwaardigheid van dit wat hulle aanlyn lees, na te gaan!