Nasie in Gesprek pak die graanbedryf

  • 13 September 2019
  • 221



Die gesprek was gefasiliteer deur welbekende anker, Theo Vorster en by hom op die paneel was Dr Dirk Strydom (Ekonoom by Graan SA), Gert Claasen (Wes-Kaap produsent), Richard Krige (Voorsitter van die Nasionale Garsnywerheidskomitee), Cobus Bester (Wes-Kaap produsent) en Willem Botes (Fakulteit vir Landbouwetenskap by die Universiteit van Stellenbosch).

Bekommernis het deurgesyfer aangesien die meeste van Wes-Kaapse streke, slegs die helfte van die normale reënval ontvang het. “As ons die hoeveelheid reën twintig jaar terug gehad het, sou dit ‘n totale katastrofe gewees het”, het Richard Krige bygevoeg. Cobus Bester is van mening dat hoewel daar ‘n belowende groen oes op die land staan, die grondvog min is. “Met ‘n gemiddelde reënval van 120mm – 200mm tot op hede, sal ons verseker moet aanpas. Eerder fokus op risikobestuur as om opbrengste te jaag”.

Richard Krige het daarop gedui dat die groeiseisoen in die Wes-Kaap oor die laaste 10 jaar gemiddeld 3 weke korter is as die vorige tagtig jaar se gemiddeld. “Dit het my verseker laat kyk na die tipe kultivar wat ek plant. Wortelontwikkeling en siektebestuur is vir ons van kardinale belang. Gert Claasen het op sy beurt weer sy bekommernis rakende die droogtesiklusse wat produsente verarm, uitgespreek. “Die terugbetaalvermoë van die produsent is onder druk en dit veroorsaak dat daar nie kapitaal aan vooruitgang spandeer nie”. Cobus Bester het bygevoeg dat aan die einde van die swakste jaar moet produsente steeds hul direkte insetkoste kan diens. “Jy gaan te veel goeie jare nodig hê as dié somme nie klop nie”.

Die gesprek het positief gedraai met Richard Krige wat uitgewys het dat die
Suid-Afrikaanse koringprodusent die beste gehalte koring ter wêreld, produseer. “Dit gaan wel tyd neem om die winsgewendheid van die gewas te bevorder”. Gert Claasens is positief dat die voordele van nuwe kultivars vir die koring- en garsprodusente steeds aan die kom is. “Ek hoop regtig daardie sprong wat die mieliebedryf ervaar het, is op pad. Hierdie industrie- en klimaatsdruk veroorsaak verder dat mens se effektiwiteit naderhand so goed is dat wanneer die prys/ekonomiese toestande draai ons eksponensieel uit verhouding gaan kan kapitaliseer”.

Dirk Strydom het gesê produsente moet seker maak hulle leer van mekaar omdat daar nie meer vandag tred gehou kan word met al die veranderlikes in landbou nie. “Deesdae kan jy jouself nie meer uit die skuld boer nie en moet eerder kyk na hoe jy jouself moet herstruktureer om deur die siklusse te kom. Maak eerder jou planne vroegtydig voordat jy reaktief optree”.

Die gesprek het afgesluit met besluit- en waarnemingsvermoë wat as kritiese faktore in die graanbedryf geïdentifiseer is. Die produsente wat goeie stabilisasie en diversifikasie in hul boerdery kan inbring gaan op die langtermyn beter vaar.