Agri Securitas Trustfonds betaal R1,9 miljoen uit om landboumisdaad te help bekamp




Die Fonds het versoeke van 22 boereverenigings in vyf provinsies ontvang. Fondse is aan boereverenigings in Noordwes, KwaZulu-Natal, Oos-Kaap, Mpumalanga en die Vrystaat toegeken.

In 2018 alleen het die totale koste van landboumisdaad R7,72 miljard oorskry en die installering van veiligheidstoerusting ter waarde van R1,9 miljard genoodsaak. Die mate waarin die boerderygemeenskap onderworpe is aan geweld en eiendomsverwante misdaad, hou 'n enorme probleem vir die sektor in en het 'n negatiewe impak op voedselsekerheid en landbou-investering.

“Die boerderygemeenskap se veiligheid is ’n voedselsekerheidskwessie. Die kwesbaarheid van plaasgemeenskappe en landelike gemeenskappe is dus nie net 'n boerekwessie nie, maar 'n gemeenskapskwessie en 'n nasionale oorweging. Dit is dus belangrik om boerderygemeenskappe te ondersteun in hul waaksaamheid om hulle en hul werkers te beskerm,” sê Cobus van Zyl, voorsitter van die Agri Securitas Trustfonds.

Die Agri Securitas Trustfonds is in 1999 gestig om boerderygemeenskappe te help om boere, werkers en bedrywighede te beskerm deur saam met plaaslike boerderygemeenskappe en die polisie te werk. Sedert sy ontstaan het die Trustfonds meer as R 16 miljoen uitbetaal, danksy skenkings van die private sektor. Hierdie befondsing het 'n kritieke leemte in die staat se polisiëringsvermoë gevul.

''Die meeste van die befondsingsversoeke van boereverenigings was vir die installering of uitbreiding van kamerastelsels. Dit word deur plaaslike gemeenskappe gerapporteer as die suksesvolste metode vir beide die afskrik van verdagtes asook die gevolglike opsporing van diesulkes. Hierdie stelsels dek groot dele van die landelike gebiede, en hierdie kombersdekking verskaf waardevolle inligting in die ondersoek na kriminele aktiwiteite,” het van Zyl gesê.

“Agri SA is dankbaar teenoor die trustfonds vir die daarstelling van hierdie bydraes tot ons boereverenigings en vir die skenkings van korporatiewe instellings en ander private sektor skenkers, en ons doen 'n beroep op Suid-Afrikaners om voort te gaan om tot die Trust by te dra om hierdie noodsaaklike leemte te vul. Dit is hierdie skenkings wat ons boerderygemeenskappe beveilig en hulle in staat stel om kos te produseer vir die mense van ons land,” sê Christo van der Rheede, Uitvoerende Direkteur van Agri SA.

“Belangriker nog, ons gaan voort om minister Bheki Cele te motiveer om die doeltreffender implementering van die Landelike Veiligheidstrategie te versnel. Dit is die enigste werklike manier om misdaad in ons boerderygemeenskappe te voorkom, om beide lewens en besighede te red, en om te verseker dat Suid-Afrikaners voortgaan om voedselsekerheid te geniet vir geslagte wat kom,” sê van der Rheede.

Agri Securitas Trustfonds webblad: https://agrisecuritas.org/

* Senwes ondersteun Agri Securitas reeds vanaf die Trustfonds se ontstaan in 1999.