Die hart van Hartbeesfontein




Veiligheid is die wagwoord

Dit kom jy dadelik agter in die ingerigte beheerkamer, wat my paraat inwag nadat hulle my seer sekerlik van die R507 en R503 gewaar het, soos per ons afspraak op die betrokke dag. Die voorsitter van die Hartbeesfontein Landbouvereniging, Jaco Maré, vertel dat hulle altyd veiligheid hoog op die agenda plaas. Met die kommando’s se sluiting in 2005 het die bevelsgroep, John Lemmer, Frik Lemmer, Jaco Maré, André Kilian, Jan Meiring en Carlos da Silva oorgegaan na die ‘Hartbeesfontein veiligheidsgroep. Een van die belangrikste kopskuiwe was om daarna by een van die veiligheidsleiers, Smithfield Boerevereniging, te gaan kers opsteek, waarna hulle besluit het om hulle beheerkamer te vestig. Dit is opgevolg in 2016 met seintorings wat op strategiese plekke geplaas is. Die eerste sewe was in fase een in 2016, vinnig gevolg deur nog sewe in fase twee en na fase drie was daar 22. Sestien van die torings word van direkte krag voorsien met ses wat met sonpanele en batterye toegerus is.

KAMERAS EN SEINTORINGS

Van die 22 kameras en seintorings is selfs bo-op Senwes silo’s gemonteer, naamlik Werda Silo, Melliodora Silo asook Hartbeesfontein Silo. Kameras is selfs op ses produsente se plase geplaas op reeds bestaande torings en hulle bedank almal vir die goedgunstigheid.

DOEL IN AKSIE

Wanneer hulle tot aksie oorgaan, is die doel van die veiligheidspan om noodhulp toe te pas indien nodig, die gebied af te sper en te beveilig. Hulle is daar om plaasaanvalle, rooftogte en diefstal te hanteer en te bekamp asook om bystand vir die polisiediens te verskaf binne die perke van die wet. Raad wat Jaco het, is om gebeurlikheidsplanne in werking te stel asook om goeie en effektiewe samewerking met die SAPD, buurtwagte, ensovoorts te hê. Hulle het ook gereelde strategiese sessies en padblokkades om sigbaar te wees, is in gesprek met die VIS en met Noordwes Agri en Agri SA, wat hulle nog altyd goedgesind is.

KOSTE EN PERSONEEL

So ‘n stelsel kan etlike duisende of miljoene kos met duisende rande se maandelikse koste. Hoewel daar baie skenkings is, moet baie koste self gedra word. Hartbeesfontein Veiligheid het vyf personeellede wat in diens is en 8-uurliks skofte ruil. Binne die toegeruste beheerkamer is daar sewe skerms waarmee die gebied beveilig word. Een van die beheerkamerpersoneellede, André Roux, het selfs ‘n toepassing ontwerp waar ‘n verdagte voertuig se model, kleur en registrasienommer ingesleutel word - die stelsel soek dan deur die databasis van vorige gevalle en kan daar gouer en meer effektief opgetree word.

WAARDETOEVOEGING

Die bykomende waarde van so ’n veiligheidsisteem is dat veldbrande beter en gouer gesien kan word en onluste kan meer effektief hanteer word. Om meer effektief te wees, is dit belangrik om nooit te stagneer nie. Brei uit, gradeer jou sisteme op sodat jy altyd relevant bly. Enkele voorbeelde is beter geboue, meer gebruikersvriendelike sisteme vir operateurs, strategiese plekke en beter kameras. Herbesoek jou sisteem gereeld. Die laaste raad is dat daar ook goeie samewerking met omliggende buurdorpe in moet wees. In hulle geval is die Noordwes dorpe Coligny, Ventersdorp, Ottosdal en Wolmaransstad krities om te weet watter ongewenste elemente jou gebied kan binnedring en om so misdaad te voorkom.

NOG VOORBEELDE

Hoewel Hartbeesfontein Veiligheid een van die beste daarbuite is, is hulle verseker nie die enigste nie. Na ’n gesprek met Agri SA en AgriSecuritas, is bevind dat daar baie ander boereverenigings landswyd is met uitstekende aksies om veiligheid binne hul landbou- en die gemeenskap te verbeter, soos die Albany Bathurst Distrikslandbou-Unie in die Oos-Kaap, Smithfield en Vierfontein in die Vrysaat, Agri Kiepersol in Mpumalanga asook Potgietersrus Landbou om net ‘n paar op te noem. So, beveilig jou area en landbou-omgewing deur die leiers in die bedryf te kontak - “Dit is een van die beste beleggings wat jy kan maak,” om Jaco direk aan te haal. En sonder twyfel weet die joernalis verseker dat hy weer gewaar is tot hy buite die radius van 40km om Hartbeesfontein is. Vir meer inligting kan Jaco Maré by 082 388 4294 of Basie Terre-Blanche 082 768 2558 geskakel word.