Impak van ryp fyn dopgehou

  • 30 April 2021
  • 1922
  • nuus



“Die afgelope seisoen se goeie reën het bygedra tot gunstige veld-en groeitoestande. Die veld en veral lang gras langs die paaie hou egter ʼn beduidende brandgevaar in,” verduidelik Armour. Hy voeg by dat kontrakteurs van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) tradisioneel eers teen die 14de Mei 2020 “nadat dit behoorlik geryp het” die gras sal begin sny. In die lig hiervan moedig hy brandbeskermingsverenigings aan om hul strukture en toerusting betyds in plek te kry.

Volgens Armour het die laat reën wat gedurende Desember en Januarie in groot dele van die Vrystaat voorgekom het, en wat in sommige dele tot vloedskade gelei het, ʼn groot invloed op aanplantings. “Baie produsente se aanvanklike aanplantings het verspoel en moes noodgedwonge oorgeplant word wat tot groot finansiële uitsette aanleiding gegee het. As dit nou te vroeg sou ryp en hierdie laat aanplantings ook skade kry, sal dit vir baie produsente ʼn groot slag wees,” verduidelik Armour.

Volgens Johan Fourie, VL-streeksverteenwoordiger, het nagtemperature in laagliggende dele van Dewetsdorp, Wepener en Vanstadensrus laag gedaal en het ryp verlede week voorgekom. Fourie sê dat aanplantings in hierdie stadium gelukkig nie skade toon nie. Intussen hoop produsente in die Jacobsdal-area op nog drie weke sonder ryp sodat daar genoegsame tyd is vir aanplantings om droog te word.