Inspeksiediens onder skoot deur verskeie landbougroeperinge

  • 23 Julie 2021
  • 1564
  • nuus



Verskeie landbougroeperinge waaronder die Raad op Verbruikersgoedere, Graan SA, Afma, Sakota, die meulenaarskamer, Agbiz Grain en die Suid-Afrikaanse Verbruikersunie het appèl aangeteken nadat daar in die Staatskoerant afgekondig is dat die diens in werking moet tree. Die diens sou volgens dié afkondiging op 12 Julie 2021 met werksaamhede begin.

Meer oor Leaf Services

In 2016 het die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling vir Leaf Services aangestel ingevolge wetgewing oor standaarde vir landbouprodukte inspeksies in die graan-en oliesadebedrywe uit te voer.

Met die verloop van tyd het die struktuur van Leaf Services al ʼn paar keer aangepas en is daar probleme ondervind met die samestelling van ʼn werkbare sakeplan.

Ondanks die feit dat daar nie eenstemmigheid kon bereik word oor die samestelling en werksaamhede van Leaf Services nie, is daar nietemin in die Staatskoerant afgekondig dat inspeksies moet begin. In die lig hiervan het verskeie rolspelers appèl aangeteken.

Volgens Daniel Botes, uitvoerende hoof van Leaf Services, bestaan daar spesifieke tydsraamwerke waarbinne appélprosesse afgehandel moet word en hierdie prosesse het nou ʼn aanvang geneem. Gevolglik sal daar nie met die inspeksiediens begin word voordat dié prosesse nie afgehandel is nie.

Agbiz Grain

Die appèl wat deur Agbiz Grain aangeteken is, is onder meer gebaseer op die organisasie se ontevredenheid oor die wyse waarop die voorgestelde inspeksietariewe bereken sou word.

Volgens Wessel Lemmer, hoofbestuurder van Agbiz Grain, voel die organisasie dat die tarief op volume, met ander woorde tonne, bereken moet word. Dit is dan die laagste koste vir almal in die waardeketting.

Nog ʼn rede waarom Agbiz Grain appèl aanteken is omdat die inspeksieproses volgens die organisasie nie in die praktyk sal werk nie. “Ons voel in elk geval ʼn inspeksiediens is onnodig. Veral in hierdie omstandighede van Covid-19 en ʼn swak ekonomie moet daar nie ʼn onnodige bykomende geldelike las op die verbruiker geplaas moet word nie,” sê Lemmer.

Volgens die kennisgewing wat in Junie in die Staatskoerant gepubliseer is, is die volgende tariewe voorgestel:

  • R1,80 p/t vir alle grane en oliesade,
  • R4 p/t vir mielie-en koringprodukte (brood uitgesluit),
  • 2 sent per brood.

Hierdie tariewe sou gehef word by die kopers, invoerders en verwerkers van die produkte, asook by bakkers van brood. BTW moet by al dié tariewe bygereken word.

Die pad vorentoe

Volgens Lemmer bestaan die verwagting dat die appèlprosesse spoedig afgehandel sal word. Indien dit egter nie die geval is nie, voorsien hy dat daar moontlike regsaansoeke om interdikte kan volg.