Landbousektor antwoord tot energievoorsiening

  • 19 Februarie 2020
  • 2592
  • persverklaring



Dit is bemoedigend om te sien dat Agri SA se voorafgaande gesprekke met minister Pravin Gordhan aangaande die energiekrisis en landbou se rol ter verligting van energietekorte, sy weg tot in die staatsrede gevind het.
 
Landbou het die vermoë om binne 12 maande ná goedkeuring van projekregistrasies energie aan die nasionale netwerk te voorsien wat die druk op Eskom kan help verlig. Agri SA het saam met vooraanstaande finansieringsinstellings ‘n produk ontwikkel wat finansiering onafhanklik van die balansstaat bied vir die oprig van sonkragstelsels.

Dit is vir Agri SA belangrik dat die landbousektor deel kan wees van die oplossing tot volhoubare energievoorsiening binne die hernubare energieraamwerk sonder om die sekuriteit wat nodig is vir die ontwikkeling van dié sektor in energie-opwekking vas te vang. Sodoende kan beide ontwikkelings plaasvind en beskikbare hulpbronne maksimaal benut word.
 
Agri SA is besig om die aankondigings oor energie-verwante sake in die staatsrede deeglik te bestudeer en druk op die Departement van Energie (DvE), Eskom en NERSA te plaas om die beleid en produkte so spoedig moontlik te ontwikkel om sodoende uiting te gee aan die bedoeling van die President. Dit is ook belangrik om die proses vanaf aansoek tot en met NERSA registrasie te bespoedig vir eenhede onder 1 MW, en nie net bo 1 MW soos in die staatsrede verwys is nie.

Dit is juis in hierdie opsig waar Agri SA die landboubedryf se rol in energie-opwekking erken en dus vir die sektor vir gunstige tydsraamwerke sal beding.
 
Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid - Ekonomie en Handel, sal die enjinkamer wees wat uitvoering aan hierdie doelwitte sal gee wat inklusiewe deelname van die landboubedrywe asook korporatiewe lede insluit. Dit rus Agri SA toe om effektief deel te neem aan beleidsontwikkeling en die ontwikkeling van produkte deur Eskom. Voorts sal Agri SA druk plaas op die DvE, Eskom en NERSA vir die spoedige praktiese implementering van planne wat in die staatsrede uitgelig is.
 
Agri SA en sy affiliasies is aktief betrokke by die huidige NERSA openbare verhore rakende Eskom se “RCA”-aansoek om R27,323 miljard van die 2018/19 finansiële jaar se tekort aan inkomste te herwin. Tariefverhogings alleen is nie die antwoord vir Eskom se probleme nie. Agri SA sal landbou se kwesbaarheid vir bo inflasie-verwante insetkostes duidelik stel en die beginsels soos in die staatsrede uitgelig, in die aanbiedinge en argumente inkorporeer.
 
Navrae
Nicol Jansen
Voorsitter: Agri SA se Sentrum vir Uitnemendheid – Ekonomie en Handel
(S) 082 948 2629