Nasie in Gesprek gesels wynbesigheid




Op die paneel was Rico Basson (Besturende Direkteur van Vinpro), Prof Nick Vink (Landbou-ekonoom by die Universiteit van Stellenbosch), Daneel Rossouw (Nedbank Landbou, Wes-Kaap), Anton Smuts (Eienaar van plaas Lucerne in Robertson en voorsitter van Vinpro), en Phillip Retief (HUB van Van Loveren Family Vineyards en ondervoorsitter van Vinpro).

Die gesprek het afgeskop met Rico Basson wat gestel het dat die Suid-Afrikaanse wynbedryf oor sowat 95 000ha strek, vanaf die suide tot by Natal. “Ek dink ons kan met nog ‘n 10 000ha kleiner raak. Wingerde is oud en daar word gefokus op die gehalte van wyne”. Prof Nick Vink het bygevoeg dat Suid-Afrika dink dat die probleem grond is, hoewel die groter probleem die beskikbaarheid van water is. Phillip Retief het uitgewys dat daar genoeg grond in die Wes-Kaap vir wynverbouing is, maar dat juis die beskikbaarheid van water, die uitbreiding van wynprodusente kniehalter.

Die paneel was eens dat die droogte oor die laaste drie jaar produsente genoop het om te begin diversifiseer met alternatiewe gewasse en beter boerderypraktyke toe te pas in terme van presisieboedery, wat verseker die toekoms van landbou is. Daneel Rossouw het verder gestel dat aanpassings soos nuwe Griekse kultivars en beter besproeiingskedulering-maniere is om die tekorte van water in die wynbedryf tot ‘n mate te mitigeer. “‘n Landbouprodusent kan nie stilstaan nie. Sodra hy stilstaan, gaan hy agteruit”, was Rico Basson se siening rakende die vooruitgang van wynprodusente.

Anton Smuts het verder gegaan en gesê dat produsente samewerkingsooreenkomste met mekaar moet aangaan om produkte te verbeter. “Ons probleem is ons neem nie aktief deel aan die hele waardeketting nie. Van produksie tot by die eindverbruiker”. Hy het ook bygevoeg dat die wynbedryf voortaan op die bemarking van die handelsmerke moet konsentreer. Phillip Retief het hierdie punt verder uitgebrei met die siening dat Suid-Afrika nie noodwendig swak bemarking in die bedryf het nie maar eerder swak verkopers. “Die fragmentasie van die bedryf het veroorsaak dat ons teen ‘n laer prys verkoop. As jy ‘n kleiner aanbod het moet jy eintlik teen ‘n premie verkoop en dit is nie noodwendig wat in Suid-Afrika gebeur nie. In SA kompeteer ons in terme van uitvoere met byvoorbeeld Amerikaanse maatskappye waar een maatskappy opsigself meer wyn as die hele Suid-Afrikaanse mark produseer”.

Wat wel kern tot dié industrie is, is ‘n sterk handelsmerk. Prof Nick Vink het die stelling gemaak dat handelsmerke in die wynbedryf oorneem en alles is. Uit ‘n finansiering- en winsgewendheidsoogpunt het Daneel Rossouw beaam dat hoe sterker die betrokke handelsmerk is en hoe beter die handelsmerk in die mark gevestig is, hoe meer suksesvol sal die boerdery as besigheid wees.