Oorstromings kniehalter KZN-landbousektor

  • 22 April 2022
  • 1278
  • nuus



Volgens Sandy La Marque, uitvoerende hoof van Kwanalu, skep die verwoesting wat die oorstromings veroorsaak het logistieke probleme, wat die uitvoer van produkte en die invoer van landbouverwante goedere aansienlik bemoeilik.

La Marque sê dat die deurvloei van goedere ernstig beperk word, veral omdat paaie en brûe rondom die hawe ernstig beskadig is. Daarmee saam is dit moeilik om toegang tot aflaai-en versamelpunte vir landbouprodukte en voorrade wat tydsensitief is te verkry.

Op sy beurt is dr Thomas Funke, uitvoerende hoof van SA Suikerrietkwekers, uiters bekommerd oor die swaar en volgehoue reën en die invloed wat dit op die bedryf gaan hê. Volgens hom het die neerslag van 300 mm tot 514 mm in sommige gebiede gewissel, wat ʼn verwoestende impak in daardie dele van die provinsie tot gevolg gehad het.

Volgens dr Funke was die onlangse reënval bo normaal en het dit groot skade aan infrastruktuur, suikerrietlande, plaasdamme, paaie, brûe, elektrisiteitstoevoer en internetdienste aangerig. Berigte is ook ontvang dat een meule tot dusver groot skade opgedoen het weens die oorstromings. Laasgenoemde is ʼn groot bron van kommer aangesien langtermynskade aan so ʼn aanleg ʼn beduidende impak op produsente het, omdat die hoeveelheid riet wat nie verwerk word nie weens ʼn gebrek aan maalkapasiteit sal ophoop.

SA Suikerrietkwekers onderneem om alles in hul vermoë te doen om produsente in hierdie moeilike tyd by te staan. Die versekering word voorts gegee dat hulle die omvang van die skade sal bepaal en die waarskynlike verliese sal kwantifiseer.