Pandemie verander hoe bedryf kommunikeer

  • 19 Maart 2021
  • 1954
  • nuus



Dit is die mening van Jannie de Viliers, uitvoerende hoof van Graan SA. Volgens hom gaan kommunikasie via digitale platforms al meer toeneem en sal dit kort voor lank die norm wees. In die lig hiervan moedig hy produsente aan, en veral diegene wat nuut tot die bedryf is, om hul rekenaarvaardighede op te skerp en nuwe tegnologie te omarm. “Almal sal in hul begrotings voorsiening moet maak vir internettoegang en data, want die oordrag van kennis sal al hoe meer deur middel van opleidingsvideo’s en digitale gesprekke plaasvind,” sê De Viliers.

In terme van Graan SA, het die streng Covid-19-inperkingsmaatreëls daartoe bygedra dat minder opleidingsessies en studiebyeenkomste gedurende 2020 kon plaasvind, en dr Dirk Strydom, hoof van graanekonomie en bemarking by Graan SA, verduidelik dat alternatiewe én nuwe kommunikasie-platforms gebruik moes word ten einde reik en impak te verseker. Om hierdie rede is daar baie van telefoongesprekke en opleidingsvideo’s gebruik.

Dié veranderingsproses was egter nie sonder uitdagings nie. “Ons is terdeë bewus van die tekortkominge in terme van plaaslike internetverbindinge, veral in die afgeleë landelike gebiede,” sê dr Strydom en voeg by dat ter wille van vooruitgang daar meer aandag aan hierdie strukture gegee sal moet word.

Versnelde digitalisering: ʼn toekomskundige se sienning

In ʼn onlangse mediaonderhoud het die toekomskundige dr Morne Mostert, van die Instituut vir Toekomsnavorsing aan die Universiteit Stellenbosch, reeds gesê dat versnelde digitalisering ʼn groot invloed op mense se daaglikse bestaan sal hê.

Hy verduidelik dat hierdie digitalisering ʼn gulde geleentheid bied vir die daarstelling van ʼn nuwe sosiale interaksie en dat mense eintlik gedwing word om met hierdie konsep te eksperimenteer veral gegewe die feit dat dit orals plaasvind.

“In hierdie ontluikende toekoms, gedrewe deur digitalisering, word opsies verryk wat na my mening ʼn baie positiewe uitkoms is,” sê dr Mostert en verduidelik dat digitale kommunikasie nie persoonlike aangesig-tot-aangesig-verhoudinge sal uitwis nie, maar eerder sal ondersteun.