Pitkos vir produsente tydens 16de Senwes Toekomsfokus





Van links na regs: Sakkie van Zyl (Voorsitter van die Rooivleis Produsente Organisasie), AC van Wyk (produsent), Waldo van Niekerk (Voorsitter van Vrystaat Landbou Jongboerkomitee), Louis Wessels (Voorsitter van Agri NW Jongboerkomitee), Neels Fourie (produsent), Johan van der Walt (produsent), JP Meintjes (produsent), Francois Strydom (Hoof Uitvoerende Beampte van Senwes) en  Jaco Minnaar (Voorsitter van Graan SA).

Die aksiebelaaide dag het gefokus op die GROOT 5 van landbou. Vyf aspekte wat die moderne produsent in sy besigheid moet inkorporeer ten einde produktief, effektief en winsgewend te boer.

Ds Laurie Naudé van NG Meyerhof in Bothaville het die dag geopen met die teksvers Jesaja 43:1 “Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne”, met die boodskap dat produsente hul getuienis as gelowiges met hoop moet gaan uitboer en uitleef, maak nie saak of dit min reën of die prys sleg is nie, elkeen moet groei waar hy/sy geplant is.

Senwes Hoof Uitvoerende Beampte, Francois Strydom, se boodskap aan produsente was dat ons in die wegspringblokke van ‘n plantseisoen staan en dat die voorbereiding so goed as moontlik kan wees, maar as ons nie opdaag op die dag en die omstandighede hanteer wat ons te beurt val nie, kan ons nie suksesvol wees nie.

Die tafel in aanloop tot die dag was gedek met die vraag: “Gebruik jy nog ou boerderymetodes, of sukkel jy met finansiële beplanning of boerderyskuld terwyl jy nie byhou met tegnologiese uitbreidings nie? Vandaar die fokus op dié 5 kernaspekte, die GROOT 5 van landbou, wat insluit: (1) strategie, (2) menslike hulpbronne, (3) bestuursinligtingstelsels, (4) vennootskappe en (5) finansies.

Jaco Minnaar, Graan SA voorsitter en nie-uitvoerende direkteur van Senwes, het die dag gefasiliteer en sy kennis aangaande die 5 kernaspekte met produsente gedeel. “Die produsent wat fokus op die geleenthede is die een wat vooruitgang sal ervaar. Dit gaan nie noodwendig oor groter boer nie, maar oor beter boer.” Jaco stel dit verder dat: “Meetbare doelwitte en bakens bepaal waarheen jy wil gaan. Strategie stel jou roete voor met hoogtes en laagtes. Die hulpbronne stel jou voertuig vir dié roete voor terwyl jou bestuursinligtingstelsels die GPS op jou pad is en as roeteaanwyser dien. Vennote is jou passasiers en maak die pad vir jou korter en laastens is jou finansiële bestuur bepalend tot hoe vêr jy op die pad is en dien dit ook as jou meetinstrument.”

Senwes het dus by ‘n paar ervare produsente in die Noordwes en Vrystaat gaan aanklop ten einde beter te verstaan hoe hulle een of meer van dié aspekte in hul boerdery benader. Die eerste stop was by Sakkie van Zyl, voorsitter van die Rooivleis Produsente Organisasie, op die plaas Rietfontein waar hy ‘n holistiese oorsig oor die 5 aspekte gegee het. Sakkie se uitkyk is: “Strategie is jou padkaart na jou visie is en die doelwitte wat jy moet bereik dien as bakens op dié pad. ‘n Uitdaging is om die visie op grondvlak te verduidelik sodat daar verstaan kan word hoekom jy doen wat jy doen. Verder is dit is nie net belangrik om ʼn goeie vennoot vir jou besigheid te vind nie, maar ook om ʼn goeie vennoot te wees. Ten einde suksesvol te wees moet jou fondasie reg wees en dan moet jy kan vasbyt en deursettingsvermoë hê.”

Vandaar ‘n verdere stop by AC van Wyk, van ACH Boerdery wat sy insig rakende strategie met ons gedeel het. AC se uitgangspunt is om met die einde in gedagte te begin en te weet waarvoor jy die strategie formuleer sodat dit jou in die regte rigting kan neem. “Werk ‘n strategie uit wat handel oor waarvan jy hou, en deel dit met jou sleutelpersoneel. Ons verwaarloos te veel kere wat prioriteit is en fokus op die krisisse. Dink eerder analities, ontleed die situasie en prioritiseer. Jou strategie moet beter wees as die eksterne faktore wat op jou besigheid inwerk. Volg ʼn strategie waar die risikoprofiel vir jou draaglik is en dink waarheen jy wil gaan, want dit gaan vir jou soveel makliker wees om te besluit oor vandag.”

Neels Fourie van die plaas Avondster in die Schweizer-Reneke distrik het meer vertel oor hoe hy sy menslike hulpbronne benader en verduidelik dat die vernaamste uitdaging die reëls en regulasies van wetgewing, die manier hoe dinge op die plaas gedoen word en die menslikheid faktor is. “As jy as werkgewer in en uit jou besigheid kan gaan sonder dat jy inboet op kwaliteit of produktiwiteit, is jy op die regte pad. ‘n Werker wat met jou verskil is iemand wat in sy werk begin belangstel, iemand wat dink oor hoekom hy doen wat hy doen. Laastens is konsekwentheid binne die wet krities - wat vandag geld moet môre geld moet volgende jaar geld.”

In terme van bestuursinligtingstelsel het Johan van der Walt gedeel hoe hy inligting in sy boerdery vir hom laat werk en is van mening dat dit bedrywighede, bestuur en besluitneming moet vergemaklik. “Jou inligting moet intyds wees, jou produktiwiteit verhoog en jou finansiële posisie verbeter. In moeilike tye help jou inligtingstelsels jou om proaktief op te tree en besluite te kan neem. Die persepsie heers dat tegnologie baie duur is maar dit moet nie jou afsit nie. Gaan leer by iemand wat dit reeds geïmplementeer het.”

JP Meintjes van die plaas Kruispan naby Viljoenskroon het uitgebrei op die belangrikheid van vennootskappe en verduidelik dat jou vennootskap met jou inset finansier, saad- en kunsmisagent en jou graan- en meganisasiebemarker, kernbelangrik is. “Kry langtermynvennoot¬skappe sodat daardie mense jou ken en weet jy sal in moeilike tye steeds jou verpligtinge in die verhouding nakom. ‘n Goeie verhouding met ‘n vennoot is geskoei op integriteit en vertroue.”

Laastens het Herman du Preez van die plaas Grysfontein naby Lichtenburg, finansiële bestuur in perspektief gestel en aangedui dat ‘n boer gebalanseerd en gediversifiseerd moet wees. “Kostebestuur is regtig een van die moeilikste aspekte om te bestuur omdat die landbousektor so wisselvallig is. ‘n Begroting en ordentlike boekhouprogram is kritiese bestuursinstrumente om jou evaluering te doen. Verder is scenariobestuursprogramme definitief ‘n aspek wat jy moet reg hê vir wanneer die moeilike tye kom. ‘n Plan B en C vir die verskillende vertakkings van jou boerdery is kardinaal. Mens moet kyk na rand en sent, jy kan nie emosioneel boer nie. Om te meet is om te weet. Stel vir jou stelsels op, implementeer dit en hou daarby.”

Die multimedia-aanbiedinge van elk van die produsente sal binnekort beskikbaar wees vir diegene wat weer daarna wil kyk.

Die dag het verder ook demonstrasies deur Senwes Equipment, uitstallings van verskeie agentskappe, ‘n spitbraai, verskeie pryse en lekker kuier saam met gaskunstenaar Appel ingesluit. Boer het behoorlik deur die are gevloei en elkeen kon pitkos kry ten einde beter bestuurspraktyke toe te pas. Ons kuier weer saam in 2020!

EINDE
Navrae: Francois Strydom
Groep Hoof Uitvoerende Beampte
Tel: +27 18 464 7115
francois.strydom@senwes.co.za
www.senwes.co.za