Senwes se Nasie in Gesprek toon merkwaardige groei




In 2014 bereik Nasie in Gesprek nuwe hoogtes deur gehore buite die landbou- sektor te bereik. Fase 1 was die daaglikse gesprekke by Nampo en fase 2 het 29 insetsels ingesluit wat op kykNet gebeeldsend is.
 
Vanjaar is die program verder uitgebrei met meer as 40 paneelgaste tydens 8 sessies in beide Afrikaans en Engels by Nampo. ‘n Televisiereeks het gevolg op Business Day TV, Soweto TV, asook op kykNET. Met 39 episodes en meer as 30 paneelgaste was dit die beste jaar nog. Die geskatte aantal kykers bo 15 jaar is massief met meer as 4 miljoen moontlike kykers op Soweto TV se kommersiële kanaal, 3 miljoen op Soweto TV se DSTV kanaal, 1,8 miljoen kykers op kykNET  en 307 000 op Business Day.
 
Die visie vir 2016 is om dieselfde wenresep toe te pas en om te poog om internasionale pers en mediahuise te betrek. 
 
Dit alles is slegs moontlik met die samewerking van ons talle vennote naamlik Graan SA, John Deere, Engen, Monsanto, Cipla, MWeb, Forum Homini, Afgri, NWK, Fort Knox, Hinterland en Nedbank.
 
NA DIE NASIE, MET DIE NASIE
“Nasie in Gesprek is ’n gesprek “na die nasie, met die nasie” -  dit is die boodskap van Senwes Groep Hoof Uitvoerende Beampte, Francois Strydom, oor dié gewilde program.
Francois is veral beïndruk met die area wat dit bereik het en natuurlik oor al die positiewe terugvoering oor die reeks. “Dit is baie groter as wat ons ooit gedink het.” Hier verwys hy na die impak op alle Suid-Afrikaners, 55 miljoen om presies te wees.
 
Met slegs 30 000 produsente in ons land is hierdie produsente “relatief onbekend” aan die massas. “‘n Groot deel van ons landsburgers woon in stedelike gebiede. Hulle glo kos kom van die naaste winkel af”. Die bevolking is dus salig onbewus van waar die voedsel vandaan kom en al die uitdagings wat daarmee gepaard gaan. Met Nasie in Gesprek word daar met hulle gepraat en word begrip hiervoor gekweek.
 
Die program ontwikkel 
Vir Francois is dit uiters belangrik dat dit ‘n gesprek moet wees en nie ‘n debat nie. Hy verduidelik dat die eerste programme drie jaar gelede daarop gemik was om die gesprek aan die gang te sit. “Die nasie-gedeelte het later bygekom.”
 
Die hele dryfkrag is nou agter die eerste gedeelte, naamlik die nasie. Hy verduidelik dit so: “Die mees kragtige boodskap is as iemand verstaan waarvandaan jy kom. Dan kan hulle amper namens jou veg.”
 
Hy sluit daarmee af dat Suid-Afrika aan die mense van Suid-Afrika behoort. “Dit is hoekom dit Nasie in Gesprek is - ons is die Nasie.”
 
IN GESPREK
“Goeiedag en welkom by Nasie in Gesprek, saam met my Theo Vorster.”
 
Dit is die woorde waarmee kykers vir die laaste twee jaar al deur Theo Vorster begroet word.
 
Maar wat weet ons van sy sieninge? Waar het Theo se betrokkenheid begin?
Theo Vorster is al sedert die eerste Nasie in Gesprek in 2013 betrokke, toe hy sy verskyning as gas gemaak het. Kort daarna is hy die geleentheid gebied om as leier op te tree, wat hy beslis sy eie gemaak het.
 
Hoe het hy by Nasie in Gesprek betrokke geraak?
Theo het vanaf sy eie program, Sakegesprek, waar hy met sakeleiers gesels het en ‘n mentorskap- en adviserende rol vervul het, by Nasie in Gesprek aangesluit. Vir Theo gaan dit daaroor om waarde uit ‘n gesprek te kry.
 
Waarheen neig Nasie in Gesprek?
Uiteraard is Nasie in Gesprek ‘n gesprek rondom landbou en die toekoms van landbou. Die gesprek brei uit na meer as net landbouers. 
 
Kykstof vir almal
‘n Belangrike aspek vir Theo is die 55 miljoen mense in ‘n gesonde Suid-Afrikaanse waardeketting. “Enige gesprek is net van waarde as jy verskillende opinies teen mekaar kan opweeg.” En hier moet eerder na raakpunte gemik word.
 
Hoe voel dit om deel te wees van Nasie in Gesprek?
“Ek dink elke ou wil iewers ‘n rol speel om Suid-Afrika en die landbousektor op ‘n stabiele en volhoubare pad te plaas vir die lang termyn. Ons glo dat landbou ‘n kritiese rol in die ekonomie van die land speel.“
 
Oor waardetoevoeging vir die publiek
“Ons wil die publiek insig gee in die waardeketting wat verseker dat daar kos op hul borde geplaas kan word.”
 
Vir die landbouer
Vir produsente word probleme soos investering, droogte, tegnologie, markpryse en spelers in die mark bespreek.
 
Vir besluitnemers en finansiers 
Nasie in Gesprek is daar om besluitnemers bewus te maak van die belangrikheid van die voedselwaardeketting. Die doel is hier om Suid-Afrika oor die langtermyn volhoubaar te laat groei. 
 
Wat staan uit?
Gesprekke oor grond wek altyd ‘n reeks emosies.  “Die balans tussen ‘n emosionele debat en ‘n rasionele debat is baie fyn. Dit moet baie mooi bestuur word.” 
Oor die toekoms?
 
Ons visie is om nog meer deelnemers betrokke te kry, die breër sektor.
En met Theo aan die stuur gaan ons nog na baie programme kyk waar hy ons aan die einde met die woorde “Mooi loop” sal groet.