Senwes voeg Falcon by tot die insetaanbod





Falcon, wat in 1985 gevestig is, fokus primêr op die landbousektor en versprei produkte landswyd deur ongeveer 350 gemagtigde handelaars, terwyl daar ook na ‘n verdere twaalf Afrikalande uitgevoer word. Die insetbesigheid, met sy kantore in Howick, Kwazulu-Natal, is geskoei op tradisionele waardes met ‘n hoë agting vir effektiewe dienslewering en is die grootste vervaardiger van wentelsnyers in Afrika.

Falcon se besturende direkteur sal vir die volgende twaalf tot vyftien maande onveranderd bly ten einde te verseker dat die oorhandiging so effektief moontlik geskied. Die maatskappy se personeelkorps, visie en sakebedrywighede met betrekking tot verskaffers, handelaars en eindverbruikers sal normaal voortduur soos dit die afgelope 34 jaar suksesvol gedoen is. “Ons is vas oortuig dat hierdie nuwe verbintenis met Senwes enorme potensiaal sal ontsluit”, voeg Besturende Direkteur, Steve Thurtell by.

Die toevoeging tot die Senwes Equipment stal versinnebeeld Senwes se strategie om te groei en te diversifiseer deur middel van konsolidasie en integrasie in die landbou- en voedselwaardeketting en ontsluit nuwe markte deur die uitgebreide toerustingoplossings wat Senwes Equipment voortaan sal bied.

Senwes Equipment is ’n landboutoerustings- en -dienstevennoot en bied meganisasie- en instandhoudingsoplossings aan produsente. Senwes Equipment is ook die eksklusiewe John Deere agent in sentraal Suid-Afrika en trotse JCB-handelaar. JD Implemente, die filiaal met die Tomlinson familie, stel Senwes Equipment verder in staat om sy markaandeel na die Wes- en Oos-Kaap uit te brei terwyl Staalmeester, die filiaal met die Coetzee familie, Senwes Equipment se produkaanbod uitbrei deur die vervaardiging en invoer van landboutoerusting vir klein en mediumgrootte boere.

Navrae: Francois Strydom
Groep Hoof Uitvoerende Beampte
Tel: +27 18 464 7115
francois.strydom@senwes.co.za
www.senwes.co.za