Skrap suikerbelasting vir die behoud van die suikerbedryf

  • 19 November 2021
  • 1391
  • nuus



Die vereniging wil hê dat die minister van finansies, Enoch Godongwana, die gesondheids-bevorderingsheffing, oftewel suikerbelasting, heeltemal skrap. In ʼn verklaring wat deur die vereniging uitgereik is, sal dié skrapping beteken dat die regering ernstig is oor die versekering van die sektor se volhoubaarheid oor die lang termyn én oor die miljoen mense wat vir hul inkomste daarvan afhanklik is.

Suikerbelasting is in 2018 ingestel met die oorhoofse doel om die voorkoms van vetsug onder Suid-Afrika te help bekamp. Die vereniging meen egter dat dié heffing nie net werkgeleenthede bedreig nie, maar ook die sukses en uitvoerbaarheid van die suikermeesterplan. Hiermee saam sê die vereniging dat daar ook tot op hede min tot geen bewyse bestaan ter stawing van die belasting se bydrae tot die bekamping van vetsug nie.

Volgens navorsing wat deur die nasionale ekonomiese, ontwikkelings-en arbeidsraad (Nedlac) in Junie vanjaar uitgereik is, toon die bevindinge dat 16 621 mense in die suikerbedryf net in die eerste jaar na die instelling van die suikerbelasting hul werk verloor het.

ʼn Afname van R653 miljoen in beleggings is ook voorts aangeteken en die suikerbedryf se bydrae tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) het met R1,19 miljard gedaal.