Tydens pandemie kan almal doen met ʼn lemoen

  • 02 Julie 2021
  • 4087
  • nuus



Wat begin het as kundige kollegas wat mekaar wedersyds met advies bedien het, het onlangs gestalte gegee aan ʼn gemeenskapsuitreik met ʼn verskil. Om hul dank te betuig teenoor hul agri-besigheidsvennote in Noordwes, het die Komati Groep ʼn vrag lemoene en pomelo’s aan Senwes geskenk.

Dié gebaar het dit vir Senwes moontlik gemaak om verskeie instansies in die Klerksdorp-omgewing met ʼn welkome vitamien C-skenking te bederf. Die ontvangers van skenkings sluit in die Rethabile Kinderhuis, die Klerksdorp Tehuis vir Bejaardes, Khaya Tshepo Home for Vulnerable Children, Opslaan en Afslaan Ouetehuis, die Atamelang Kinder-en Jeugsorgsentrum en La Hoff Laerskool.

Volgens Sanmarie Schlebusch, Senwes se korporatiewe bemarkingsbestuurder wat verantwoordelik was vir die verspreiding van die skenking, getuig dié gebaar van die warm hartklop van die Suid-Afrikaanse landbouwaardeketting. Sy meen die een aspek wat baie duidelik na vore gekom het sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie en die talle uitdagings wat sedertdien voorgekom het, is die menslikheid waarmee mense mekaar hanteer.

“Landbouers is omgee-mense,” sê Schlebusch en voeg by dat produsente nie skroom om hulp en bystand te bied nie, en hulle produkte – en nie noodwendig uitskotvoorraad, te gebruik om nood in gemeenskappe dwarsoor Suid-Afrika te help verlig.

Senwes se AVC Relief Umbrella-projek is nog ʼn sprekende voorbeeld van dié gulhartigheid. Danksy die skenkings van produsente en korporatiewe vennote is meer as 490 ton witmielies reeds ingesamel, wat tot 26 312 5kg sakkies papmeel verwerk is en voedselverligting aan 315 388 individue gebied het. Vir meer inligting oor dié projek besoek http://www.senwes.co.za/avc-food-umbrella.



Verskeie organisasies in die Klerksdorp-omgewing het by die skenking gebaat.