Vrywillige wintergraanheffings – dit moet jy weet

  • 30 April 2021
  • 1783
  • nuus



Die vrywillige heffings wat aan SAWCIT betaalbaar is, word gebruik om belangrike bedryfsfunksies te finansier. Om hierdie rede is voldoende deelname in die betaling van die heffings van kritieke belang vir alle rolspelers in die bedryf. Die finansiering van hierdie funksies verseker voedselsekerheid, tegnologiese vooruitgang, groter markdeursigtigheid en -integriteit, asook die monitering van oeskwaliteit. Hierdie aspekte verhoog die plaaslike bedryf se wêreldwye mededingendheid.

Die belangrikste funksies wat met die vrywillige heffings van SAWCIT gefinansier sal word, is die Suid-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL), die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS), asook verskeie belangrike navorsings- en transformasieprojekte.

Wat is die bedrae van die SAWCIT vrywillige heffings? (BTW uitgesluit)

  • Koring: R14,50 per metrieke ton
  • Gars: R14,50 per metrieke ton
  • Hawer: R6,00 per metrieke ton

Die heffings is betaalbaar op alle koring, gars en hawer:

  • wat deur die produsent daarvan verkoop word;
  • wat ingevoer of uitgevoer word;
  • wat deur of namens die produsent verwerk of geprosesseer word; en
  • waarvoor ʼn silo-sertifikaat uitgereik word.

Hoe word die SAWCIT-heffings gevorder?

Produsente en andere wat graan lewer, moet magtiging gee dat die vrywillige heffings by die verkoop of lewering van die graan afgetrek en oorbetaal word.

Die heffings moet verkieslik voor die einde van die maand, wat volg op die maand waarin die heffings gevorder is, aan SAWCIT oorbetaal word. Die koper, verwerker, prosesseerder, invoerder, uitvoerder of persoon wat die silo-sertifikaat uitreik is verantwoordelik vir die oorbetaling van die heffings.

Wie besluit oor die gebruik van die vrywillige heffingfondse?

Daar is ses trustees deur die bedryfsrolspelers aangestel om op SAWCIT te dien en hulle sal die gebruik van die heffings namens die bedryf bestuur en beheer.

Vir meer besonderhede stuur ʼn e-pos na sawcit@llagric.co.za.