Winsgewendheid van gewasse




SEISOENALE TENDENSE

Soos wat die produksieseisoen verloop, reageer die mark op die heersende fundamentele faktore wat gedurende daardie tyd heers. Indien daar byvoorbeeld ’n droë tydperk voorspel word gedurende ’n kritiese tyd in die produksieseisoen, behoort die mark te reageer deur pryse wat styg. 

Oor die jare vorm daar patrone wat duidelike tydperke uiteensit wanneer verskansing waarskynlik op beter vlakke as op ander tye gedoen kan word. Die uitdaging is dat daar in hierdie tye gewoonlik ’n fundamentele probleem, soos droogte, die mark dryf en die verskansingsbesluit bemoeilik. Hieronder is ’n uiteensetting van die Julie witmielie seisoenale tendens. 

Uit grafiek 1 kan duidelik gesien word dat die eerste seisoenale geleentheid tradisioneel gedurende November (planttyd) ontstaan. Gedurende hierdie tydperk, wanneer produksiesekerheid laag is, sal dit sinvol wees om verskansing te benader deur middel van minimumpryse (put opsies). Produsente is geneig om ’n derde van verwagte produksie hier te verskans, waar sommige wel voldoende tonnemaat verskans om insetkoste te delg. 

Die volgende geleentheid ontstaan gedurende Februarie – Maart (bestuiwingstyd), wat meestal saam met die tradisionele midsomersdroogte val. Produsente wat op hierdie stadium wel meer produksiesekerheid het, kan oorweeg om die minumimpryse wat gedurende planttyd gekoop is, terug te verkoop en vaste pryse in te neem in hul plek.

Hierdie oorweging sal egter afhang van die verskil tussen die premie wat betaal is en die premie wat met die terugverkoop opgemaak kan word. Alternatiewelik kan ‘n volgende derde van produksie met vaste pryse verskans word. 

Die laaste derde word dan gelos tot ongeveer Mei (strooptyd), maar produsente is ook geneig om eers seker te maak van die finale tonnemaat gestroop voor die laaste gedeelte van produksie bemark word. Die tradisionele prysstyging van Julie tot Desember word egter ook geredelik benut deur produsente in die vorm van uitgestelde prysing of afgeleide instrumente, wat gebruik kan word om die opwaartse potensiaal te benut. 

Die bostaande strategie gee die geleentheid om verskillende geleenthede in die mark te benut. ’n Konserwatiewe benadering verseker ook dat daar deurentyd aanpassings aan die tonnemaat wat verskans word, gemaak kan word sodat daar nie meer tonne verskans word as wat realisties verwag kan word nie.

Grafiek1

Grafiek 1: Die langtermyn Julie-kontrak witmielieprys en 2019 prysbeweging op Safex.

FAKTORE OM DOP TE HOU

Die faktore wat gedurende die komende plantseisoen waarskynlik ’n groot rol in plaaslike pryse kan speel, word hieronder bespreek.

Wisselkoers:
Die plaaslike mark is sensitief vir bewegings in die rand/dollar wisselkoers. Hierdie koers het ‘n groot impak op in- en uitvoerpariteit, wat die bande bepaal waarin die plaaslike mark teoreties behoort te verhandel. 

Die rand is tans in ’n verswakkende fase, grootliks as gevolg van swak ekonomiese vooruitsigte op die plaaslike front en ’n sterk Amerikaanse dollar. Die swakker geldeenheid maak plaaslike kommoditeite meer kompeterend in die buiteland en stimuleer uitvoere.

Enige abnormale bewegings (soos wat onlangs gesien is, tot R1.30/dollar in ’n dag) kan gebruik word, sou daar ’n verskansingsbesluit op daardie stadium geneem word.  

El Niño

Die El Niño-verskynsel het ’n groot impak op die plaaslike reënval, veral in die kritiese tyd rondom Desember – Februarie.

’n El Niňo-verskynsel affekteer veral die westelike produksiegebied. Hoewel die tydsberekening van reënval belangriker is as die hoeveelheid, kan kommer oor ’n moontlike droogte vererger word deur die teenwoordigheid van ’n El Niño-verskynsel. Die verwagting vir ’n El Niño-verskynsel vir die somerseisoen, word in grafiek 2 uiteengesit.

Grafiek2

Grafiek 2: Figuur 2: El Niño waarskynlikheid.

Daar kan gesien word dat die waarskynlikheid van ’n El Niňo vir die komende seisoen baie sterk is. Die effek van die El Niňo word wel nie so sterk verwag vir hierdie seisoen nie, maar die teenwoordigheid daarvan kan lei tot ’n oorreaksie in die mark op voorspelde droë weer.

Aanplantings

In die komende seisoen kan onsekerheid oor aanplantings pryse dryf. Die funksie van die mark is om produsente te insentifiseer om wel aan te plant, ten spyte van die risiko van byvoorbeeld droogte. In die komende seisoen is daar egter addisionele faktore wat tot meer onsekerheid lei.

Hierdie faktore sluit in die relatiewe beter winsgewendheid van sonneblom, die onsekerheid rakende die grondkwessie, kommer oor ’n moontlike El Niňo, produsente se kontantvloei wat onder druk is, ensovoorts. Daar moet onthou word dat die mark deur onsekerheid gedryf word en dat daar verby die onsekerheid gekyk moet word na winsgewendheid om te bepaal wanneer verskansing gedoen moet word.

Eindvoorraad

Hoewel daar steeds wesenlike eindvoorraad ten opsigte van mielies verwag word, kan die invloed van uitvoere en verhoogde verbruik nie buite rekening gelaat word nie. Verbruik is tans op hoë vlakke en uitvoere vorder ook goed. Indien hierdie tempo’s bo verwagting hoog bly, kan daar verwag word dat pryse ietwat sal wegbeweeg van uitvoerpariteit af, om voorraadsekerheid binnelands te verseker.

Ten opsigte van oliesade word daar steeds ’n oormaat sojabone verwag. Binnelandse perskapasiteit is tans nie groot genoeg om die volle produksie te kan verwerk nie. Die sonneblomsituasie lyk heeltemal anders. Die verbruikstempo van sonneblom is baie hoog en daar bestaan ’n moontlikheid dat voorraad knap kan raak aan die einde van die seisoen.

OPSOMMEND

Die plaaslike mark behoort gedurende planttyd (en selfs later) deur onsekerheid gedryf te word. Daar moet verby hierdie onsekerheid gekyk word, sodat die besluit steeds geneem kan word om verskansing te doen. Die verskansingstrategie wat gevolg word, moet vooruit beplan word en kan dinamies aangepas word om by nuwe markinligting aan te pas. Om hulp hiermee te kry, kan u gerus u graanbemarkingskonsultant of SAFEX-makelaar skakel.