Aartappelpryse normaliseer na rekord lae volumes in September

  • 15 Oktober 2021
  • 1345
  • nuus



Dié uitermatige hoë prys was die gevolg van ʼn rekord lae nasionale volume van slegs 268 000 beskikbare sakkies. Gewoonlik is die aartappelvoorraad op ʼn gemiddelde dag op die Johannesburgse varsproduktemark alleen meer as 250 000 sakkies.

Volgens David Nel, hoof van aartappelverkope by Grow Markagente, sal dié prys egter nie sommer in die volgende paar maande herhaal nie omdat die beskikbare volume aartappels teen middel Oktober weer sal stabiliseer en die pryse gevolglik sal normaliseer. Hy reken dat verwerkers wat weens die laer volumes ʼn tekort ervaar het, ook as ʼn voorsorgmaatreël hoër volumes aartappels buite kontrak opgekoop het. Hierdie tendens het heelwat tot die lae volumes op die markte bygedra en sal tot aan die einde van die jaar ʼn uitwerking hê.

Hoër pryse steeds laer as in 2020

Volgens Deon van Zyl, bedryfshoof van Grow Markagente, word daar tans beduidende druk op die verkope van alle ander kommoditeite op markte uitgeoefen.

Hy verduidelik dat oor die afgelope drie maande die beskikbare volumes effens hoër as verlede jaar was, maar dat die pryse aansienlik laer was vir alle produkte in vergeleke met 2020. Die volume groente op die Johannesburgse varsproduktemark was gedurende Julie vanjaar 10% hoër as in 2020, maar die prys was 31% laer. In Augsustus was die volume groente 10% hoër, terwyl die prys op ‘n jaargrondslag 23% laer was. As die abnormale situasie van die aartappelbedryf buite rekening gelaat word, was die volume groente en vrugte vanjaar 9% hoër en die prys 19% laer as in 2020.

Van Zyl verduidelik dat daar heelwat faktore is wat ‘n invloed op hierdie tendens uitoefen, maar hy is van mening dat die pandemie steeds die grootste rol in terme van die ekonomie speel. Hy verwys veral na lae indiensneming en verlaagde besteebare inkomste.

Die seisoensverandering speel ook voorts ‘n rol op algemene verbruik en aanvraag.

In die somer neem verbruik gewoonlik toe, terwyl die spysenierings-en restaurantbedryf voorts besig is om terug te keer na normaliteit. Dié situasie sal verder bespoedig word sodra die internasionale Covid-19-gevaarstatus uitgewis word en plaaslike en internasionale toerisme ‘n aanvang neem.