Afrika Ontwikkelingsbank het jong agripreneurs in sy visier

  • 12 Februarie 2021
  • 1647
  • nuus



Hierdie modelle sal nie net voedselsekerheid bevorder nie, maar ook welvaartsontwikkeling steun ten spyte van die groter wordende bedreiging wat klimaatsverandering vir die landbousektor inhou.

Volgens die bank se president, Akinwumi Adesina, sal die bank die helfte van sy totale klimaat-finansieringsbegroting, naamlik $12,5 miljard (R189,29 miljard), tussen nou en 2025 aan dié inisiatief bestee. Hierbenewens sal deelnemende regerings, die privaatsektor en internasionale klimaatsfondse ʼn gelykstaande bedrag bydra.

Volgens Adesina, dra die Covid-19-pandemie by tot ʼn dubbele tragedie in Afrika, naamlik ʼn onvermoë om die gevolge van die pandemie te bestuur én om pro-aktief op die impak van klimaatsverandering te reageer. Laasgenoemde verwys onder meer na voortslepende droogtes, vloede en plae soos die mees onlangse klimaatsgedrewe sprinkaanplaag in Noord-Afrika. Navorsing deur die Global Center for Adaptation in Nederland, toon dat Afrika die kwesbaarste vasteland in die wêreld is as dit kom by klimaatsverandering, dit ondanks die feit dat dit verantwoordelik is vir slegs 5% van aardverwarming.

Bemagtigingsprogram wil aanpasbaarheid bevorder

Adesina verduidelik dat die befondsingsinisiatief van die Afrika Ontwikkelingsbank ʼn drieledige doel het: om voedselproduksie te stimuleer, ʼn veerkragtige infrastruktuur vir landbou te skep en om jong agripreneurs toegang tot finansiële hulpmiddele te gee.

Die bank beplan om ʼn verdere $3 miljard beskikbaar te stel om ongeveer 10 000 nuwe jeuggeleide maatskappye, wat in sektore soos groen tegnologie spesialiseer, te finansier terwyl hy ook hoop om ongeveer 1 miljoen mense in die waarde van aanpasbaarheid te onderrig. Hierdie bemagtigingsprogram sal die risiko’s wat kommersiële banke neem om jongmense te finansier om as landbouers opgelei te word, verminder.

Volgens Adesina, sal die aantal jongmense in Afrika teen 2050 die 840 miljoen kerf verbysteek, en is hy van mening dat hulle ʼn belangrike rol kan en moet speel in die soeke na oplossings vir die uitdagings wat klimaatsverandering inhou. “Die toekomsfokus van ons jeug, sal uiteindelik bepaal of die kontinent volhoubaar sal kan voortbestaan,” sê Adesina.

Dit is tyd om anders te dink oor landbou

Die sukses van dié projek sal, volgens Adesina, bepaal word deur die mate van innovasie wat jong agripreneurs aan die dag lê.

Hy verduidelik dat die landbousektor ʼn dinamiese rol het om te speel, nou en in die toekoms, en dat agri-besighede ʼn leidende rol in dié sektor kan speel. “Die tyd het gekom dat ons na oplossings soek wat vir die vasteland werk, wat getuig van passie en kreatiewe denke en bowenal, gestalte gee aan ʼn toekomsfikse kontinent,” sê Adesina.