Debat oor ivermektien duur voort

  • 08 Januarie 2021
  • 3369
  • nuus



Wêreldwyd word debatte gevoer oor die potensiaal van ivermektien as ʼn moontlike teenvoeter vir die koronavirus, en ook in Suid-Afrika blyk daar verdeeldheid te wees oor die gebruik en doeltreffendheid van dié middel. Ivermektien is in Suid-Afrika slegs as ʼn veemiddel geregistreer, terwyl daar wel lande is wat dit vir menslike gebruik goedkeur.

Dr Peter Oberem, uitvoerende hoof van Afrivet, meen hoewel ʼn aantal internasionale navorsers ivermektien op grond van teoretiese bevindinge as ʼn moontlike teenmiddel voorhou, dit belangrik is om daarvan kennis te neem dat Suid-Afrikaanse ivermektienprodukte nie vir menslike gebruik geregistreer is nie.

Hy verduidelik voorts dat, ingevolge die Suid-Afrikaanse Wet op die Beheer van Medisyne en Verwante Stowwe (nr. 101 van 1965) die gebruik van dieregesondheidsprodukte vir menslike gebruik as ʼn kriminele daad beskryf.

ʼn Verklaring wat deur die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte uitgereik is, herbeklemtoon dit dat ivermektien nie vir menslike gebruik geskik is nie, en voeg by dat daar geen bevestigende kliniese bewyse bestaan vir die gebruik van die middel in die behandeling van Covid-19-infeksies nie. Die verklaring lui voorts dat die gebruik van so ʼn ongereguleerde middel skadelike newe-effekte tot gevolg kan hê en selfs tot sterftes kan aanleiding gee.

Op sy beurt meen dr Gerhard Verdoorn van die Griffon-gifinligtingsentrum, dat mense hul lewens op die spel plaas deur dié middel te gebruik. Mense kan volgens hom blind word en ook ander gesondheidsprobleme ondervind. Hy sê sover hy weet, is die dosis waarteen ivermektien die koronavirus kan doodmaak, te hoog om vir mense toe te dien.

Volgens dr Theo de Jager, president van die World Farmers’ Organisation (WFO) gebruik produsente oor die wêreld heen al sedert April 2020 die middel ivermektien. Hy is egter bekommerd dat die huidige polemiek oor die middel veeboere kan benadeel omdat die parasitiese ladings in vee juis hierdie tyd van die jaar hoog is, en daar gevolglik ʼn tekort aan die middel kan wees.

* Die Transvaal Landbou Unie (TLU SA) het onlangs ʼn beroep op die regering gedoen om soveel as moontlik wetenskaplike, gestaafde feite oor die middel in te samel. Indien daar dan na afloop van ʼn intensiewe toetsingsproses positiewe resultate opgelewer sou word, vra TLU SA dat die regering die gebruik van die middel sal aanmoedig.