Die Ottosdal Draf en Trap vier 27 jaar van sukses!




Slegs 72km vanaf Klerksdorp in die ooste, 62km vanaf Delareyville in die weste, 88km vanaf Lichtenburg in die noorde en 46km vanaf Wolmaransstad in die suide. Reg in die middel van Noordweskontrei wag die klein Noordwes landboudorpie van Ottosdal jaarliks vir die duisende atlete en besoekers aan die einde van Januarie - vanjaar was dit die 27ste agtereenvolgende byeenkoms.

Die norm daar buite is om padwedlope, padfietsritte of bergfietsritte apart aan te bied, of met slegs ‘n klein mate van oorvleuling op die spyskaart. Maar by Ottosdal doen hulle die Draf en Trap ding saam en hulle gaan baie groot. ‘n Allemintige elf items wat vier padwedlope, vier padfietsritte en drie bergfietsritte op een dag insluit. En hul leuse van "die speke rol, die spoke hol en muskiete lol" is veral relevant.

Sowat 3 000 sportlui en meer as 10 000 besoekers het vanjaar die Noordwes dorpie tydens hierdie naweek besoek en is ook die rede waarom die gemeenskap, landboubesighede en ander organisasies saamspan om die juweel jaarliks aan te bied. Die grootste gekombineerde sportgebeurtenis in die Noordweste!

Vanjaar was Senwes Equipment, Senwes Grainlink, Hinterland asook Bastion en Certisure vanuit die Senwes Groep betrokke. Marius Lubbe, Hinterland Takbestuurder, vertel dat dit “regtig ‘n voorreg is om as borg en vennoot van die Draf en Trap betrokke te wees en ook om ‘n waterpunt te kan beman sedert die heel eerste uitgawe in 1994. Vir Ottosdal beteken dit goeie bemarking vir ons dorp en om sport in die algemeen te bevorder.”

Die groot wenners op die dag was Lucky Miya van Gallopers Atletiekklub, wat die spoke in die nag weggehol het om die 42.2km marathon te wen (2:43:50), en Patricia Gouws van KWay Jeppe wat die muskiete se tier was deur die vroue-afdeling in te palm (3:16:16). Wat die padfietsritte aanbetref, het die span van Barzani skoonskip gemaak in die 84km met Nico Thiart wat die speke laat rol het met ‘n tyd van 1:57:01, gevolg deur sy spanmaats Ruan Pieterse en Dusty Day. Maude Elaine le Roux van Kovsies het die speke laat sing in die vroueafdeling met ‘n tyd van 2:12:37. Die vlagskipitem by die bergfietsritte is die 60km en hier het Jaco Botha die afstand in ‘n baie modderige 2:19:34 voltooi, met Megan Roux van Klerksdorp Hoërskool wat, ongeag die nat toestande, gewen het met 'n tyd van 2:46:05. Wat jou laat dink dat dit nie slegs die muskiete en spoke is wat jou pla nie, maar die modder en plasse water ook terwyl die speke rol en sing. 

So ingeboesem is die Draf en Trap in Ottosdal dat dit sinoniem met die dorp is, baie soos Tafelberg vir Kaapstad is en die Uniegebou vir Pretoria. Verseker die beste uitvoerproduk van die landboudorpie Ottosdal.

Hier wissel die bergfietse se afstande van 20km, 40km en 60km. Die padfietsryers kan kies uit die 10km, 20km, 40km of 84km en die padatlete het 5km, 10km, 21.1km halfmarathon en die 42.2km marathon om uit te kies. Of selfs twee wedlope met baie atlete wat die 5km saam met die familie voltooi, net om later aan die meer ernstige afstande deel te neem. Die 42.2km is al vir 27 jaar ‘n Comrades en Twee Oseane kwalifiserende wedloop.

Die Draf en Trap het deur die jare gegroei van slegs ‘n paar honderd atlete in 1994 tot amper 5 000 sportlui (4 905 in 2016) wat 3 237 atlete en 1 668 fietryers daardie jaar ingesluit het. In 1994 is slegs die marathonwedloop aangebied, gevolg deur die eerste halfmarathon in 1996, die eerste 10km in 2001 en die eerste 5km in 2002. Die padfietse het hul buiging in 2001 gemaak met afstande van 10km, 30km en 60km destyds, wat later verander het met die 100km wat in 2004 ingebring is en later in 2012 na 84km verander is. In 2009 het die bergfietse die spyskaart aangevul met ‘n 40km en in 2010 is dit uitgebrei met ‘n 20km. Meer onlangs, vanaf 2013, is die Ottosdal Draf en Trap in die huidige formaat van 11 items met sportlui wat van heinde en verre kom om deel te neem. Indien jy die volle Draf en Trap-ervaring wil beleef, is daar ook spesiale tweekampmedaljes op die spel wat al sedert 2005 aangebied word.

Die Draf en Trap het verlede jaar ook sy suksesresep verbeter met sportlui se tye wat deur elektroniese skyfies deur Protime gedokumenteer word. In 2018 is spesiale 25-jaar medaljes gedruk - iets wat die Draf en Trap elke vyf jaar doen.
Vir sekretaresse en organiseerder vir die afgelope 17 jaar, Willa Naudé, is die ondersteuning wat hulle verskaf waarlik iets wat uitstaan. Draf en Trap voorsitter Jaco Bamberger het op sy beurt aangedui dat hoewel hulle die geleentheid aanbied, hulle dit verseker nie sonder die talle borge en duisende deelnemers kan doen nie. “Elkeen is vir ons belangrik en dit hou die Ottosdal gemeenskap aan die gang.”  

Welgedaan met 27 suksesjare, Ottosdal Draf en Trap! Ons stap die pad saam met julle.

*Kyk gerus na die video-insetsel oor die 2020 Ottosdal Draf en Trap.

*Vir die volledige uitslae besoek gerus http://www.protime.co.za/result-item/ottosdal-draf-trap-2020-25th-january-2020/

Nog Draf en Trap Statistiek

Aantal Jare: 27
Lampies: Daar word jaarliks 2 000 paraffienlampies op die roete geplaas.
Liters paraffien: 1 500 liter paraffien word gebruik.
Vrywilligers: 400
Aantal medaljes gedruk: Tot soveel as 5 000
T-hemde vir voorafinskrywings: 1 000

2020 Draf en Trap Statistiek

Aantal sportlui: 2 968
Aantal atlete: 2 072
Aantal fietsryers: 896

Deelnemers aan die verskillende items

Padwedloopatlete in totaal: 2 072
5 km: 472
10 km: 929
21.1km: 404
42.2 km: 267

Padfietsdeelnemers in totaal: 517
10 km: 67
20 km: 111
40 km: 174
84 km: 165

Bergfietsdeelnemers in totaal: 379
20 km: 157
40 km: 138
60 km: 84