Die regte besigheidskopskuif vir 2019




Senwes Scenario visited Francois Strydom, Senwes Group Chief Executive to talk about the current scenario of agriculture in South Africa and which mind-shifts are needed to survive.

Die jaar 2019 is ’n unieke jaar. Soos elkeen daarvoor, veral in landbou. Wie kan nog die klok terugdraai na 2015? Toe het ons gedink: “Dit is so sleg as wat dit moontlik kan gaan met die laagste reënval in amper 107 jaar.” En kyk waar is ons nou in 2019, met die nasionale aanplantings wat laer is as die aanvanklik geprojekteerde intensie en die seisoen wat tussen 6 en 8 weke laat gaan wees. Reënval in die westelike deel is selfs nog laer as in 2015, tans is ons by minder as 60% van die 30-jaar gemiddeld.

die 30-jaar gemiddeld. Die verwagte reënval het nie gerealiseer nie en die weerfenomeen het veroorsaak dat neerslag nie plaasvind nie of dat dit baie min reën. Wat die seisoen ook uniek maak, is dat dit ’n produsent gemiddeld drie jaar neem om homself uit so ’n situasie te bestuur en ons is nou eers in daardie derde jaar sedert die 2015/16 droogte.

Opmerklik is die feit dat die reënval in die ooste en dele van die noorde redelik goed is, maar in die Wes- en VerrewesVrystaat baie sleg, wat die kwaliteit en kwantiteit van graan gaan beïnvloed. Huidige skattings is dat 15% tot 20% minder mielies aangeplant gaan word op ’n nasionale basis. SA kan dus tussen 7 en 10 miljoen ton mielies produseer.

Die seisoen en die mielieprys het op 14 Januarie 2019 klaar deur die vlak van R3 000 per ton beweeg, wat positief is indien jy ’n oes het. Die realiteit is dat individuele produsente erge probleme gaan ondervind en ons dus in die toekoms minder produsente gaan hê wat slegs op hulle beter areas en streke gaan aanplant, wat teoreties natuurlik meer bestendigheid kan teweegbring. Die waarheid is dat SuidAfrika in vergelyking met die wêreld nie die heel beste produksiegebied is nie.

Om te diversifiseer na alternatiewe gewasse of vee is ’n opsie, maar daar is baie aspekte wat oorweeg moet word. Dit het al begin plaasvind, maar insidente soos wat ons tans ervaar, versnel die proses. Die probleem is dat dit nie jaar-opjaar verander kan word nie en jy oor meer as ’n 20-jaar winsgeskiedenis moet beskik om ’n ingeligte besluit hieroor te neem.

Produsente is dus al meer risikobestuurders wat risikobesluite neem. “Om te sê ek sal plant mits die prys reg is, is net ’n prysbesluit, maar dit moet met ’n produksiebesluit gekombineer word.” Ook belangrik is die volgorde van jou besluitnemingsproses, natuurlik eers produksieen dan prysbesluite.

SPESIALISASIE OF DIVERSIFIKASIE? 
Dit is die ewige vraag. By Senwes het ons die voordeel om 110 jaar se geskiedenis te beoordeel en in ons geval is spesialisasie die regte antwoord vir ons besigheidsmodel. Senwes diversifiseer wel ten opsigte van geografie, kommoditeite en klantebasis. Belangrik om te onthou is dat indien jy goed is in een deel van die voedselwaardeketting, impliseer dit verseker nie dat jy goed is in ’n ander ook nie. Indien ’n besigheidstrategie slegs winsbejag is, is dit egter ’n kortstondige siening en ’n gevaarlike pad om te loop. Die regte strategie is om te oorleef in moeilike jare sodat jy, as die siklus weer positief is, die volgende jaar steeds daar sal wees.

OORLEWING 
Om te oorleef moet jy selfkrities en analities wees rakende jou kernvaardighede, risikobenaderings en die omgewing en nie selfvoldaan wees nie. “Jy is dalk nie so skerp as wat jy dink nie.” Wees gefokus, toegewyd en nederig. Tyd en tydigheid is belangrik. Indien jy ’n besluit moet neem, doen dit. Wat belangrik is, is die boodskap wat jy uitstuur, die kultuur wat jy skep en karakter wat gebou word met die neem van die besluit. 

2019 NASIONALE VERKIESING 
Ons is nou in ’n tydperk waar volatiliteit baie hoog is, politieke insidente voorkom en uitsprake gemaak word. Wisselkoerse, kommoditeite en sakevertroue word geaffekteer, maar dit is belangrik om nie toe te laat dat hiérdie korttermyngebeurtenisse jou van jou langtermynsienings wegneem nie. Verhoed dat jy verlam word deur vrees en om besluitloos te wees. Onthou, geen besluit is ook ’n besluit!

GOEIE GELEENTHEDE 
Wees bedag daarop dat daar altyd baie goeie geleenthede is: “Van omtrent elke 100 geleenthede benut Senwes vanuit ’n korporatiewe transaksieoogpunt, slegs twee.” As dit nie die strategie ondersteun, by die kultuur pas en/of die prys reg is nie, neem ons dit nie. Jy sê dus baie meer nee vir “versoekings” as wat jy ja sê vir “geleenthede”. Ons is in die voedselwaardeketting en ondersteun dus produsente. Die kruks is dat ons almal by situasies sal moet aanpas, en indien jy nie die moed en vertroue het om aan te gaan nie, moenie wag dat omstandighede namens jou die besluite neem nie. Senwes onderneem om aan te hou om te belê, besigheidsprosesse te konsolideer en geleenthede te benut.

Ons is daarop gefokus om met insette, marktoegang en finansiële dienste, advies en oplossings aan klante te verskaf. Ons het ’n gefokusde besigheidsportefeulje wat impliseer dat ons eerder baie van min wil weet, as min van baie.
Senwes het ten doel om die beste administrasie en ondersteuningsdienste aan ons operasionele besighede te verskaf, leiding te neem en om grondige kennis met klante te deel. “Wees verseker, Senwes sal aanhou deelneem en nie ‘n toeskouer wees nie, ons is deel van Suid-Afrika en aanvaar die verantwoordelikhede wat daarmee gepaard gaan.”