Gesonde speenkalwers bevoordeel voerkraal en produsent

  • 19 Maart 2021
  • 2239
  • nuus



Deur gesonde diere aan te koop, word vrektes én medisynerekeninge beperk.

Maar wat dra alles by tot die lewering van gesonde speenkalwers? Schoonbee meen die volgende faktore kan ʼn bepalende rol speel:

  • Genetika
    Genetika wat tussen rasse en binne rasse verskil beïnvloed die groei, voeromsetverhouding en uitslagpersentasie van ʼn speenkalf.
  • Ouderdom

    Die kalf se ouderdom speel ook ʼn rol. Hoe jonger die kalf, hoe beter is sy voerdoeltreffendheid. Die meeste speenkalwers word op sewe maande of op ʼn sekere gewig gespeen.

  • Gewig
    Die ideale aankoopgewig van speenkalwers is tussen 220 en 260 kilogram.
  • Geslag

    Oor die algemeen verkies voerkrale bulkalwers bo verskalwers.

    As dit kom by die kondisionering van speenkalwers voordat hulle na ʼn voerkraal gaan, kan die volgende riglyne gevolg word:

  • Goeie inentings-en doseerprogramme

ʼn Goeie inentings-en doseerprogram, wat deur ʼn veearts voorgeskryf word, dra baie by tot die algemene gesondheid en prestasie van speenkalwers. Omdat daar nie juis ʼn standaard gesondheidsprogram vir speenkalwers alvorens hulle na die voerkraal gaan nie, raai Schoonbee produsente aan om kalwers op ses maande teen milt-, lam-en sponssiekte asook respiratoriese siektes in te ent.

Kort voordat hulle gelaai word, kan die diere ontwurm en teen ektoparasiete behandel word. Dit is wenslik om kalwers eers te speen voordat hulle na die voerkraal gaan. Om die diere direk ná speen te vervoer, verhoog hul risiko vir speenskok.

Nog ʼn manier om verdere prestasie in die voerkuil te verseker is om skeenkalwers se rumen te ontwikkel deur dit met hoër styselrantsoene aan te pas. Dié intervensie bevoordeel nie net die voerkraal nie, maar ook die produsent wat ’n beter speengewig op ’n vroeër ouderdom bereik.

Naspeurbaarheid is belangrik

Volgens Schoonbee is daar ʼn daadwerklike fokus om ʼn kultuur van naspeurbaarheid vanaf die voerkraal na die verbruiker te vestig.

Dit is egter belangrik dat so ʼn stelsel reeds op die plaas van oorspring begin.

Vir voerkrale is naspeurbaarheid baie belangrik. Daarom is dit nodig dat al hierdie aksies soos inenting, ontwurming en voeding gedokumenteer word, sodat die voerkraal kan weet wat reeds vir die diere gedoen is en wat nog ontbreek. Met die nodige dokumentasie kan ’n produsent begin onderhandel vir ’n beter premie op sy speenkalwers, omdat hy die versekering kan gee dat hy gesonde diere aan die voerkraal lewer.