Hoe bepaal ek of my geweer akkuraat is?




Want in werklikheid gebeur dit maar selde dat drie skote mekaar sny op jou teiken. ’n Geweer kan 100% reg opgestel wees, met die ammunisie wat perfek herlaai is daarvoor en nog steeds kan dit op ’n bepaalde dag nie die gewenste groepering skiet nie. Dit is as gevolg van eksterne faktore wat die koeël se vlugbaan beïnvloed en sodoende die geweer van sy teiken af druk.

Daar is ’n paar ander faktore wat ook die akkuraatheid van ’n geweer beïnvloed buiten die eksterne faktore soos wind en temperatuur. ’n Skut se skiettegniek is ook ’n groot bepalende faktor in die plasing van die skote op die teiken. Die skiettegnieke wat ’n skut moet bemeester om sy geweer akkuraat te laat skiet sluit in snellerdruk, wangposisie en terugskophantering. Indien die veranderlikes nie elke keer die selfde gedoen word nie behoort jou geweer nie akkuraat te skiet nie. Swak kwaliteit teleskope en skuts wie se sig verswak, kan ook bepalend wees tot die akkuraatheid van ’n geweer. Teleskope speel ’n belangrike rol in skootplasing.

Behalwe dat jy moet sien wat jy wil skiet moet die teleskoop self ook akkuraat wees. ’n Akkurate teleskoop se kruishaar skuif nie vanself rond nie – stel akkuraat indien verstelling benodig word. Aangesien ’n loop wat 0.016 grade wegbeweeg van die mikpunt af tot gevolg het dat jy nie meer ’n duimgroepering op 100 tree kan skiet nie, is dit belangrik dat jy ’n teleskoop het wat so akkuraat kan mik.

Indien die eksterne faktore en die skut se tegniek so ’n groot effek op ons skote se trefpunt het, moet daar ’n ander ma - nier wees waarmee ons kan bepaal of ’n geweer akkuraat is of nie. Met tegnologie wat alles verbeter, tot en met gewere, moet daar iets wees wat ons kan gebruik om makliker te bepaal of ’n geweer akkuraat is of nie.

In ’n artikel wat op die webwerf www.65guys.com geplaas is op 20 Junie 2015, genaamd Load Development (Part 1 of 2), verduidelik die skrywer hoe hy ladingontwikkeling benader. Een van die maniere wat hy gebruik om ’n akkurate lading te bepaal, is om die spoed van elke skoot te meet en dan die lading te gebruik waarvan die spoed die kleinste uiterste verspreiding het. Die uiterste verspreiding van spoed van ’n groep ladings word uitgewerk deur die stadigste spoed van die vinnigste spoed af te trek. Die antwoord gee dan die uiterste verspreiding van spoed van ’n spesifieke lading. Die artikel noem dat die teikens wat goeie groeperings het, goed vergelyk met die ladings wat klein uiterste verspreiding in spoed het. Kan ons dus spoed gebruik as ’n aanduiding van akkuraatheid?

Die spoed waarteen ’n koeël die geweer se loop verlaat, word bepaal deur interne ballistiek. Indien 2 koeëls se interne ballistiek dieselfde is, behoort hulle op dieselfde plek te skiet, indien skuttegniek en eksterne faktore buite rekening gelaat word. Die spoed waarteen ’n koeël die loop verlaat, bepaal die trajek van die koeël. Indien elke trajek presies dieselfde is, behoort elke koeël op dieselfde plek te skiet. Voor ons net aanvaar dat spoed vir ons ’n goeie aanduiding gee rakende die akkuraatheid van ’n geweer, moet ons dit gaan toets. Indien moontlik, meet ek my geweer se spoed tydens ladingontwikkeling. Die spoed wat ek meet is vir trajekbepaling en nie noodwendig om die verband tussen spoed en akkuraatheid te bepaal nie. Daarom sal ek ’n toets doen om die verband tussen spoed en akkuraatheid te bepaal. Ek laat weet julle wat my bevinding is!