Inflasie | Kospryse word duurder

  • 25 Maart 2022
  • 1475
  • nuus



Volgens SSA toon dié syfer nog nie die impak van die Russiese inval in Oekraïne op onder meer die brandstofprys op die plaaslike ekonomie nie.

Kerninflasie, wat kos-, brandstof- en kragpryse uitsluit, het ook onveranderd gebly, op 3,5%.

Inflasie is nou in twee provinsies, die Noord-Kaap en Noordwes, hoër as 6% op 6,1%.

ʼn Duurder kosmandjie

Kommerwekkende nuus vir huishoudings is egter dat kosprysinflasie skerp gestyg het van 5,7% in Januarie tot 6,4% in Februarie. Die grootste styging is vleis, wat gemiddeld 8,6% duurder is as ʼn jaar gelede, en vette en olies, wat 22,7% duurder is.

Stygende kospryse bring mee dat die land se armste huishoudings, wat meer van hul inkomste aan kos moet bestee, nou inflasie van 7% beleef, en die roep net bo hulle 6,6%.

Die styging van 3,7% in die prys van brood en graanprodukte soos mieliemeel is meer as dubbeld wat dit in Januarie was, toe dit op 1,5% vasgestel was.

Op die keper beskou het pryse tussen Januarie en Februarie met 2,4% gestyg, ʼn baie hoë styging in een maand en die hoogste maandstyging sedert die begin van 2019.

Mieliemeel het in een maand 3,7% duurder geword en witbrood 3,2%. Dit beteken ʼn witbrood kos nou gemiddeld 69 c duurder as in Januarie teen sowat R16,16.

Koekmeel se prys is 4,7% duurder terwyl die van pasta met 4,1% gestyg het. Bruinbrood is 2,5% duurder.

Volgens SSA kan die oorlog in Oekraïne ʼn impak op die wêreld se graanvoorraad hê, en daarom ook die pryse. Dié tendens sal oor die volgende maande fyn dopgehou word.

* Die artikel het oorspronklik op Netwerk24 verskyn.