Jagtyd




Net die idee van jag laat 'n klomp nuwe  gedagtes by ons opkom. By 'n kampvuur sit en sterre kyk, vroegoggend die veld hoor gesels en natuurlik om jou bok te gaan jag is maar 'n paar gedagtes wat in ons wakker gemaak word.  Skuts is wel baie versigtig om nie die verkeerde gedagtes wakker te maak nie. Daardie langafstandskoot wat laas jaar nie uitgewerk het nie. Of die nabyskoot na 'n lang dag se stap, wat die dag net nog langer gemaak het is iets wat ons nie wil onthou nie.

Wat kan ons as skuts doen om die winter beter voor te berei, sodat daardie verkeerde gedagtes nie by ons kom spook volgende jaar nie? Is die foute wat ons maak in die jagveld nou maar net deel van jag, of kan ons die foute vermy?  

Natuurlik kan ons met beplanning en oefening meeste van die spoke wat in die jagveld is, probeer vermy.

Jou geweer- en koeëlkeuse is sekerlik een van die eerste besluite wat geneem moet word voor ons jagveld toe gaan.  Indien 'n skut vertroud is met 'n spesifieke geweer en kaliber is die stryd halfpad gewen. In die jagveld is die beste kaliber mos die een wat jy die beste skootplasing mee kan skiet.  Kies nou vir jou 'n koeël waarmee jy die dier op die vinnigste moontlike manier kan doodmaak. Met jou akkurate geweer en 'n koeël wat kan werk soos jy wil hê hy moet, is meeste van die spoke reeds verjaag.

Oefening voor 'n jag hoef nie te stop by die geweer inskiet op 'n sekere afstand nie.  Oefen om uit verskillende posisies te skiet wat jy moontlik in die veld sal benodig. Moenie van 'n sementtafel af skiet as jy op pad is Oos-Kaap toe nie. Moenie agter op die bakkie klim en jou geweer instel as jy op pad is Limpopo toe nie. Stel jou geweer in en oefen jou skote soos jy hulle in die veld sal moet skiet. Indien jy genoeg skote uit jagposisies uit skiet, sal jy ook leer wat die verste  skote is wat jy kan skiet in die veld.

Die beplanning van 'n suksesvolle jag hoef nie te stop by die jag van jou bok nie. Die oomblik wat jy by jou bok staan na die jag is kosbare oomblikke. Daar in die veld langs jou bok besef jy dat God jou die mag gegee het om 'n lewe te kan neem.  Die verantwoordelikheid wat ons saam met dit moet dra, is groot. So 'n groot oomblik wil jagters saam met hulle dra vir 'n lang tyd. Sorg dat jy iets by jou het wat jy die oomblik mee kan vasvang. Dit is net soveel mooier om 'n foto in die veld te neem van jou en jou bok as langs die vleiskamer op 'n sementvloer.  

Gelukkig is 'n jag nie verby na die laaste skoot geklap het nie. Die bewerking van vleis en die lekker biltong na die tyd is ook deel van 'n suksesvolle jag. Biltong maak is ook 'n kuns wat met oefening beter en beter word.  My eerste biltong wat ek gemaak het was op 15-jarige ouderdom. Dit was so sout dat ek alles moes weggooi. Maar soos die jare aangegaan het, het ek ook die jarelange tradisie van hoe om lekker Suid-Afrikaanse wildsbiltong te maak, aangeleer.

En nou is die winter nie meer die koue tyd van die jaar nie. Nee, dit is die tyd van die jaar wat die kinders wil gaan kamp, vuurmaak en buite slaap. Dit is die tyd van die jaar wat hulle in die veld wil wees, naby aan die skepping. Maar ook is dit die tyd wat hulle wil biltong maak sodat hulle die lekkerste kosblik by die skool kan hê!



22 kg Biltong vleis

680 gr Growwe sout

1/2 Eetlepel growwe swartpeper

1 Pakkie koeksoda

1 1/4 Koppie pangebraaide gemaalde koljander

1/2 Teelepel salpeter

1 Eetlepel bruinsuiker.


Meng die speserye met mekaar.

Gooi 'n lagie speserye onder in 'n bak. Pak 'n laag vleis op die speserye.

Sprinkel speserye oor die vleis.

Sprinkel asyn oor die laag vleis.

Pak lae vleis bo-op mekaar tot al die vleis op is.

Draai die vleis om 12 ure later en gooi alle vloeistof weer oor die vleis.

Hang na 12 ure op in 'n goed geventileerde vertrek.

Laat droog na smaak.