Nampo 2022 | Suksesvol in die sakkie




Senwes het oudergewoonte reggestaan met ʼn dinamiese produkaanbod vir feesgangers.

Nasie in Gesprek

Op Nampo Park het Nasie in Gesprek relevante landbou onderwerpe hanteer en het die gespreksforum ʼn besonderse mylpaal bereik: 10 jaar as Suid-Afrika se mees gesogte landbougeselsprogram. Die forum het in 2013 ontstaan onder die vaandel van die destydse Senwes Toekomsfokusdag.

Volgens Francois Strydom, Senwes Groep hoof uitvoerende beampte en beskermheer van die gespreksforum, het Nasie in Gesprek ʼn lansie gebreek vir die totale voedsel-en veselwaardeketting deur begrip en bewustheid te kweek. “Deur impakvolle gesprekvoering is daar nie net daarin geslaag om kennis te verbreed nie, maar ook beïnvloeding te laat geskied oor aspekte wat die landbousektor betref – aspekte wat onlosmaaklik deel is van die groter Suid-Afrikaanse sosio-ekonomiese landskap.”

Vanjaar se gesprekke is deur Theo Vorster en Wandile Sihlobo gefasiliteer.

Senwes by Nampo

Senwes Equipment se kundige bemarkers was op hul pos by John Deere, Staalmeester en Falcon, terwyl die Senwes integrasiespan die Senwes Wenakker beman het. Laasgenoemde het aan feesgangers ʼn kykie na integrasie in aksie gegee en het die span die oorkoepelende Senwes produkaanbod aan belangstellendes deurgegee.

Hinterland se stalletjie was deurentyd ʼn miernes van bedrywighede en besoekers is op ʼn eietydse kuier-koopervaring getrakteer. Hierbenewens het die Senwes Kaalvoet-kinderparkie vir die kleinspan gesorg en die Senwes skoonmaakdienste het bygedra tot ʼn aangename park ervaring.

Om foto’s van die week te besigtig, besoek Senwes se sosiale media platforms.