Nat toestande sorg vir duur tamaties

  • 01 April 2021
  • 1761
  • nuus



Dit volg nadat verbruikers die afgelope paar weke aansienlik meer moes betaal vir dié veelsydige rooi vrug, terwyl verskillende variëteit ook plek-plek onverkrygbaar was.

Dié skerp prysstyging word toegeskryf aan die bogemiddelde reënval wat gedurende Januarie en Februarie in die produksie-areas van Polokwane en Mooketsi voorgekom het. Volgens Clive Garrett, ZZ2 se bemarkingsbestuurder, het dié nat weer tot ʼn toename in plae gelei en is daar gevolglik groot skade aan plante en vrugte aangerig.

Tydens ʼn onlangse radio-onderhoud op 702 het Garrett verduidelik dat hoewel die produksie van tamaties baie water verg, die plante nie van baie reën hou nie. “Dinge lyk egter reeds beter en oor die volgende twee tot drie weke sal die situasie na normaal terugkeer,” sê Garrett. Hy verduidelik dat produksie nou aangeskuif het na die warmer dele van die land, soos agter die Soutpansberg in die Waterpoort- en Musina-omgewing. Hierdie gebiede is nie so erg deur die reën beïnvloed nie.

Volgens Garrett word die meeste blaargroentes asook broccoli en blomkool deur die nat toestande geraak, terwyl aartappel-en wortelproduksie ook op sekere plekke nadelig geraak is.

* Die landbou-inligtingsgroep, Agrimark Trends, stel dit dat die prys van tamaties vanaf die middel van Maart tot en met April met 47% gestyg het. Dit het veroorsaak dat tamaties tot R16,82 per kilogram gekos het, terwyl hoë gehalte tamaties die R30 per kilogram kerf verbygesteek het.