Nee vir storting van ingevoerde hoendervleis op SA mark

  • 05 Maart 2021
  • 1685
  • nuus



Dit volg nadat die SAPV aangekondig het dat daar bewys kan word dat dié lande bevrore hoenderstukke op die Suid-Afrikaanse mark stort wat nie net onbillike mededinging vir plaaslike produsente inhou nie, maar ook plaaslike werksgeleenthede in gedrang bring. Die probleem lê daarin dat hierdie lande bevrore produkte in die land inbring teen pryse wat soms laer is as waarvoor hulle dieselfde produkte in hul tuismarkte sou verkoop verduidelik Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die SAPV se braaihoenderorganisasie.

Op hierdie manier word meer werksgeleenthede in die produksielande geskep, terwyl ekonomiese vooruitgang in Suid-Afrika gestrem word. Hierdie onbillike praktyke is, volgens Breitenbach met die EU se verteenwoordigers in Suid-Afrika, asook die EU-uitvoerorganisasie AVEC bespreek.

Kommerwekkende hoë stortingsmarges

In SAPV se aansoek by die Itac, vra die organisasie vir teenstortingstariewe gegrond op die verskil tussen die prys waarvoor bevrore hoenderstukke in die produksieland verkoop word en die laer uitvoerprys daarvan na Suid-Afrika.

Volgens Breitenbach is stortingsmarges van tot 201% gevind, ondanks die bestaande invoertariewe. In ʼn poging om tariewe teen te werk, verlaag uitvoerlande hul pryse en Breitenbach verduidelik dat hierdie pryse, wat so laag is as R6,86 per kilogram, ongelukkig nie na verbruikers deurgegee word nie. Op hierdie manier skep dit bloot bykomende winste vir die invoerwaardeketting.

Itac sal na sy ondersoek ʼn aanbeveling deurgee aan die minister van handel, nywerheid en mededinging; Ebrahim Patel. Die proses kan sowat ʼn jaar neem om te voltooi.

SAPV word in dié aansoek ondersteun deur ʼn groot aantal organisasies van graanprodusente, kleinskaalse boere en kontrakboere tot die meerderheidsvakbond in die hoenderbedryf en maatskappye wat afhanklik is van die pluimveewaardeketting, soos die verskaffers van voer en toerusting.