Rekordoeste vir wintergewasse in die vooruitsig gestel

  • 30 Julie 2021
  • 1366
  • nuus



Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer, Agbiz, deel die volgende vooruitsigte in hierdie verband.

Die Wes-Kaap wat meer as twee derdes van die land se wintergewasse, naamlik koring, kanola, hawer en gars verbou, het goeie reën sedert die begin van Mei ontvang. Hiermee saam het die koue weer van die afgelope paar weke ook bygedra tot gunstige gewastoestande.

Produsente in hierdie geweste se voornemens is, volgens Sihlobo, om koringaanplantings met ʼn persentasiepunt tot 512 000 hektaar op te stoot, kanola met 28% tot 95 000 hektaar en hawer met 32% tot 34 500 hektaar. Hy reken dat dié vooruitsig vir koring rofweg in pas is met die tienjaar-gemiddelde, terwyl dit vir kanola die grootste aanplanting in agt jaar sal wees en vir hawer die grootste nog. In die geval van gars sal die verwagte aanplantings met 33% tot 95 000 hektaar afneem. Hierdie afname kan toegeskryf word aan die kleiner vraag na aanleiding van die alkoholverbod.

Volgens Sihlobo was die afgelope seisoen se oeste reeds merkwaardig, met koring wat teen 2,1 miljoen ton die grootste oes in bykans twee dekades was, kanola met ʼn rekordoes van 1645 200 ton en hawer met ʼn rekordoes van 57 000 ton. Desondanks hierdie oesresultate sal Suid-Afrika ʼn netto invoerder van koring bly en word die invoersyfer vir die 2020-2021 bemarkingsjaar op 1,6 miljoen ton geraam.

Alle aanduidings is dat die weerstoestande goed sal bly vir die res van die seisoen en die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel meestal bo-normale neerslae vir die laaste deel van die seisoen.

* Die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) sal op 28 Julie die voorlopige oppervlakteskattings van die wintergewasse bekend maak, terwyl die eerste oesskatting op 26 Augustus sal volg.