Rolspelers gekant teen regulering van teeltegnieke

  • 14 Januarie 2022
  • 1241
  • nuus



Die Landbousakekamer Agbiz, die Suid-Afrikaanse nasionale saadorganisasie, Sansor, en die chemikalieë-bedryfsliggaam, CropLife SA, het gevolglik appèl aangeteken teen die besluit wat deur die uitvoerende raad vir die GMO-wet geneem is. Dié besluit is in Oktober geneem en behels dat die bestaande risiko-ontledingsraamwerk vir GMO’s ook vir produkte van nuwe teeltegnieke soos genoomredigering moet geld.

In die appèl, onder leiding van Agbiz, vra bedryfsvennote dat die regulering van produkte wat deur nuwe teeltegnieke ontwikkel word, op die wetenskap gegrond moet word. Volgens die bedryfsvennote strook die Suid-Afrikaanse reguleerder se GMO-definisie nie met ʼn wyd aanvaarde beginsel dat produkte van nuwe teeltegnieke nie anders gereguleer moet word as hulle identies is aan, óf nie onderskei kan word van produkte wat deur natuurlike of konvensionele teeltegnieke verkry kon word nie.

Die klaers waarsku dat Suid-Afrika se besluit om al hierdie produkte as GMO’s te reguleer nie net wye implikasies vir Suid-Afrika en plaaslike innovasie sal inhou nie, maar ook vir die internasionale handel in produkte wat deur nuwe teeltegnieke ontstaan het. Op die keper beskou kan ongelykmatige regulering volgens die bedryfsvennote lei tot voedselonsekerheid en aansienlike handelsversperrings tussen Suid-Afrika en sy handelsvennote.

In ʼn verklaring wat in die verband uitgereik is, stel die bedryfsvennote dat die huidige benadering oor regulering ook die ontwikkeling en benutting van nuwe tegnologie ontmoedig binne die Suid-Afrikaanse navorsingsomgewing. Dit sluit plaaslike saadmaatskappye, openbare en akademiese navorsingsliggame en klein sowel as mediumgrootte innoveerders in.

Nog ʼn aspek wat kommer wek is die feit dat dit bykans onmoontlik sal wees om te bepaal of genetiese veranderinge deur konvensionele teling, natuurlike mutasies of deur ʼn nuwe teeltegniek geskep is. Die uiteinde hiervan is dat dit baie moeilik sal wees om nuwe produkte te toets en te klassifiseer. Volgens Agbiz sal dié tendens onoorkomelike hindernisse tussen handelsvennote skep, want dit is onwaarskynlik dat daar ʼn omvattende lys van produkte in die globale waardeketting beskikbaar sal wees, wat aandui dat hulle deur nuwe teeltegnieke ontwikkel is.

* Die artikel het oorspronklik in Landbou.com verskyn.