RPO Noordwes hou eerste virtuele kongres

  • 24 Junie 2021
  • 1451
  • nuus



Volgens Sakkie van Zyl, Noordwes RPO voorsitter, het die felheid van die derde vlaag Covid-19-infeksies die organisasie genoop om die virtuele roete te volg, ten einde die veiligheid van alle deelnemers te verseker. 

Volgens Van Zyl beleef produsente in Noordwes ʼn baie geseënde seisoen tot dusver, met goeie reënneerslae wat oor groot dele van die provinsie voorgekom het.  Hy voeg by dat weidings goed herstel en dat gunstige markpryse voorts tot die positiewe sentiment bydra.  Die gunstige markpryse kan volgens Van Zyl grotendeels toegeskryf word aan ʼn beperkte aanbod omdat die bedryf tans in ʼn herstelfase is met betrekking tot kuddegroottes, en nie as gevolg van ʼn sterk verbruikersvraag nie.

Bedryf én waardeketting moet toekomsfiks word

In ag genome die huidige beperkte aanbod, meen Van Zyl dat die bedryf en die rooivleiswaardeketting nou deeglik vir die toekoms moet beplan vir wanneer produksievlakke herstel en selfs verder uitbrei. 

Die vraag wat gevra moet word, is of die binnelandse mark groot genoeg is om in die huidige ekonomiese klimaat groei kan absorbeer.  Indien nie, moet maatreëls in plek gestel word om waarde te ontsluit en die bedryf in staat te stel om te groei ten einde voorsienning te maak vir ʼn groter markaanvraag. 

Uitdagings en geleenthede

Volgens Van Zyl het die bedryf die afgelope 18 maande voor verskeie uitdagings te staan gekom, waaronder die uitbraak van dieresiektes soos Bek-en-klouseer en die gevolglike opskorting van veeveilings. 

Ten einde hierdie uitdagings aan te spreek fokus die RPO op die daarstelling en implementasie van biosekuriteitsmaatreëls soos onlangs aangekondig deur die Landbouprodukteagenteraad (Apoc).  Volgens Van Zyl begin biosekuriteit en dieregesondheid by produsente en hierdie fondament verswak of verstewig die totale waardeketting.  “As die fondasie nie sterk is nie, sal die res van die struktuur wankelrig wees.  Dit is daarom belangrik dat produsente hul verantwoordelikheid in hierdie verband besef,” sê Van Zyl. 

Ander aspekte wat belangrik is, veral gegewe die organisasie se toekomsbeplanning, is naspeurbaarheid, die onontginde uitvoerpotensiaal van rooivleis, veediefstal en die befondsing van die bedryf.  Laasgenoemde verwys na die statutêre heffing en volgens Van Zyl dra hierdie heffing nie by tot die staatskoffers nie, maar word dit gebruik om:

  • Produksievermoëns te ontwikkel;
  • Verbruikers op te lei; en
  • Navorsing te befonds.

Op die oomblik word hierdie heffing deur die RPO en ander lede van die Rooivleisindustrieforum hersien ten einde die bedryf se vermoë om waarde te ontsluit te vergroot.  “Ons besef al hoe meer dat die kwynende vermoë van die staat om dienste te verseker die onus op ons plaas om self ʼn groter belegging in die bedryf te maak.  Om dié rede probeer ons tans bepaal wat die omvang van ʼn statutêre heffing moet wees ten einde potensiaal te ontsluit,” verduidelik Van Zyl en voeg by dat die toekomsvisie van die RPO is om ʼn welvarende, mededingende en volhoubare rooivleiswaardeketting te verseker. 

* Senwes was ʼn trotse hoofborg van die kongres.