SA wildbedryf steeds in skadu van pandemie

  • 12 Maart 2021
  • 1624
  • nuus



In ʼn onlangse onderhoud met Landbou.com sê Richard York, die uitvoerende hoof van Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA), dat die wildbedryf die afgelope paar jaar reeds verskeie uitdagings die hoof moes bied. Hierdie uitdagings sluit onder meer in ʼn genadelose droogtesiklus, politieke onsekerheid en ʼn groot ekonomiese inkrimping. Hiermee saam was die sektor een van die bedrywe wat gedurende die 2020 Covid-19-inperking die swaarste getref is.

Volgens York word baie min internasionale reise tans deur trofeejagters onderneem vanweë die pandemie, terwyl daar talle lande is wat hul burgers verbied om na Suid-Afrika te reis uit vrees vir besmetting met die plaaslike variant van die virus. Om hierdie rede is dit baie moeilik om plaaslike jag-en toerismebestemmings internasionaal te bemark.

Hierdie situasie word verder beïnvloed deur ʼn gebrek aan beleggersvertroue in wild en kwessies soos die onteieningswet en die nuwe minimumloon dra by tot beleggers se weifeling om in plaaslike wildplase te belê.

Neem deel aan WRSA-opname

Die WRSA is tans besig met ʼn opname onder sy lede om vas te stel tot watter mate die Covid-19-pandemie die bedryf beïnvloed.

Indien jy aan dié opname wil deelneem, stuur ʼn e-pos na ceo@wrsa.co.za.